Familie van vermistes soek na leidrade
'n Vrou van Luipaardsvlei en haar kleuter is deur familie as vermis aangemeld nadat sy nie teruggekeer het huis toe nie.
Die familie van ‘n vrou, 24, is bekommerd omdat sy en haar tweejarige dogter spoorloos verdwyn het.
Marikie Roux het volgens haar suster Pippie Koen gister hulle woning in Luipaardsvlei verlaat om ‘n curriculum vitae (CV) te laat maak.
Sy het haar dogter Lee-Ann saamgeneem.
“Ons is bekommerd oor hulle. Ons ken haar nie as die tipe persoon wat sommer net so sal verdwyn nie – haar selfoon was nog besig om in die huis te laai,” sê Pippie huilend.
“Ons het glad nie ‘n idee waar sy is nie. Al die leidrade wat ons opvolg loop dood.”

Roux se verloofde Jean Fourie erken hulle het ‘n klein meningsverskil gehad, maar dat dit opgelos is.
“Ek wil net hê sy moet terugkom huis toe.”
Hy bied R5 000 aan vir enige inligting wat sal help om hulle op te spoor.
Toe hulle van die huis af weg is het Roux ‘n rooi hemp en grys denimbroek aangehad en haar dogter het ‘n oranje hemp en blougrys broek gedra.
‘n Saak van ‘n vermiste persoon is by die Krugersdorp Polisie geopen.
