Norienes hou karnaval
'n Lente Karnaval is gehou om geld vir die Norienes-kleuterskool in te samel vir 'n verskeidenheid instandhoudingstake en speelapparate.
Met ‘n roomys in die hand of ‘n rit op Oupa se Waentjies is hoe nagenoeg 140 kleuters van die Norienes-kleuterskool Vrydagmiddag spandeer het.
Estie Ellis, skoolhoof het gedink dat ‘n dag in die buitelug met sommer baie pret die beste oplossing is om ook vir die skool geld in te samel.

Met die eerste Norienes Lente Karnaval is daar gehoop dat genoeg geld ingesamel sou word om die skool ‘n nuwe lagie verf te gee asook om nuwe buitespeelapparate vir die kinders aan te skaf.
Talle stalletjies het sake gedoen en ‘n verskeidenheid lekkernye en yskoue koeldranke is verkoop om die droë kele te streel.

Dié wat wou sien hoe towertruuks voor hulle oë afspeel is met verskeie kulkunsies bederf. Ander kon aan die Beetle Derby- resies deelneem of in ‘n waentjie op die feesterrein rondrits.

‘n Verhoog is opgestel waar sangers die feesgangers vermaak het. Jay du Plessis, beter bekend as die hoofsanger van die groep Eden, het sy gehoor in sy sak gehad toe hy al sy gunstelingtreffers gesing het.
