Haar tekkies en die teer is waarvoor sy leef
Op 11 word sy Springbok en maak Krugersdorp trots.
Sy voel atletiek help om haar karakter te vorm en leer haar daagliks belangrike lesse soos om nooit op te gee nie of dat ‘n mens nie altyd kan wen nie.
Johanné Meyer van Laerskool Kenmare loop oor van vasberadenheid en selfdissipline. Alhoewel die 11-jarige se atletiekloopbaan in sy babaskoene is, is sy iemand om dop te hou.
Johannné se dag begin ses uit die sewe weeksdae op die pad en nog voor die haan kraai is dit sy, haar tekkies en die teer.
Ses dae ‘n week, twee ure elke dag hardloop sy want volgens haar kan geen atleet verwag om te presteer sonder dat hulle daarvoor werk nie.
Johannné wat haarself onder andere as ‘n langafstandatleet beskou, het onlangs die D2-distrikspan gehaal vir haar prestasie in die 1 200m-item.
Veelsydig is die beste beskrywing want as sy nie haar lang asem oefen nie, doen sy gewigstoot of slyp haar ringbaltalent.
Haar liefde vir ringbal kom van haar pa af wat self die sport op provinsiale vlak beoefen.
Johannné het vroeër vanjaar ‘n provinsiale ringbalbaadjie aangetrek om die Gauteng Suidwes Ringbal Distrik te verteenwoordig.
Na afloop van die nasionale kampioenskappe in Nelspruit het sy nog ’n groot prestasie behaal deur in die Suid-Afrikaanse Ringbalspan opgeneem te word.
Dit is nog vroeg in die seisoen en die jong Springbokkie sal later vanjaar in Middelburg, Durban en Pretoria haar land verteenwoordig.
“Ek sien die hele land deur so te toer,” vertel sy.
Haar skool, gemeenskap en familie volg haar loopbaan met trots om te sien wat volgende wag.
Met arms vol medaljes erken dié 11-jarige dat een van haar grootste drome is om eendag ‘n professionele atleet te wees.
“Ek weet dat atletiek nie vir ewig hou nie en dat beserings vinnig kan gebeur. Daarom wil ek ook vir ‘n biokinetikus gaan leer, dan kan ek steeds my passie naby my hê,” sê dié wyse meisie.
