Nooddienste vaar goed by nasionale kompetisie
Vier nooddienspersoneellede van die Wes-Rand het onlangs groot sukses tydens 'n nasionale kompetisie in Modderfontein behaal.
Met groot ywer, deursettingsvermoë en kennis het die Wes-Randse nooddienste onlangs gewys dat kommunikasie ‘n noodsaaklike rol speel wanneer dit kom by lewens red.
‘n Span van vier nooddienspersoneellede wat onderskeidelik in die private en publieke sektor werk, het besluit om nie net hulle kragte nie maar ook hulle kennis in vanjaar se SA Emergency Care se Firefighter Rescue Challenge in Modderfontein saam te snoer.
Manie Gouws (paramedikus vir die Gauteng provinsie), Eugene Williams (paramedikus vir die Life Flora Kliniek), Dawie de Villiers (Krugersdorpse brandweerman) en Hentie Malan (paramedikus vir ER24) het elk meer as 14 jaar se ondervinding en diens in die nooddienste.
“Ons het so te sê in die brandweer grootgeword,” sê Gouws.
Drie van hulle het aan die individuele brandweerman-kompetisie deelgeneem waar hulle met volle brandweeruitrusting ‘n 20kg-brandslang teen ‘n toring van vyf vlakke moes uitdra.
Daarna moes ‘n 20kg-gewig ook teen die toring opgetrek word waarna die deelnemer weer so gou as moontlik onder moes kom waar ‘n 75kg-gewig van een meter met ‘n hamer geslaan moes word.
Gouws sê daarna moes hulle deur verskeie brandkrane hardloop om ‘n brandslang op te tel wat hulle 30 meter ver moes sleep om ‘n merker raak te spuit.
Die finale rondte van die kompetisiekategorie was om ‘n 80kg-pop ook 30 meter ver na die wenstreep te sleep.
“Uit meer as 40 deelnemers van reg oor die land het ek en De Villiers onderskeidelik vierde en vyfde geëindig,” sê Gouws.
In spanverband het hulle met 20 spanne meegeding en moes as ‘n span die baan wat De Villiers en Gouws in die individuele afdeling klaargemaak het, in ‘n aflos voltooi.
Hier het krag, spoed en dissipline ‘n groot rol gespeel omdat die baan so gou moontlik, maar ook so deeglik as moontlik om strafpunte vry te spring, voltooi moes word.
“Ons span het in die tweede plek geëindig in ‘n tyd van twee minute en 10 sekondes.”
Tydens die redding-kompetisie is die spanlede geblinddoek. Toe moes hulle met hulle volle brandweeruitrusting aan hulle pad deur en onderdeur ‘n hindernisbaan voel om ‘n 60kg-pop op te spoor wat weer deur die hindernisbaan na die beginpunt gesleep moet word.
“Die afdeling was baie straf omdat ons as ‘n span nie verder as ‘n armlengte van mekaar mag wegdwaal nie. Hier was kommunikasie baie belangrik.”
Die Wes-Randse span het die eerste plek in hierdie kompetisie behaal nadat hulle in ‘n tyd van een minuut en 46 sekondes hulle pasiënt veilig uitgekry het.
Malan sê hulle het so goed gevaar omdat “die oumanne al so lank in die diens is en weet hoe om met mekaar te kommunikeer en as ‘n span saam te werk.”
Gouws sê as als goed verloop gaan hy en De Villiers in Oktober Kaap toe waar hulle aan die nooddienste se nasionale 10km-wedloop gaan deelneem.
Verwante stories:
• Brandweerman wéér onder bestes
• Wes-Randse nooddienste verleen hulp in die Filippyne
