Nories maak geskiedenis op die planke
Vir die eerste keer in Hoërskool Noordheuwel se geskiedenis sal die skool aan die ATKV-Tienertoneelfinaal in Potchefstroom deelneem.
Hoërskool Noordheuwel is bekend as Krugersdorp se eie dramaskool wat al verskeie televisie- en rolprentakteurs opgelewer het.
Maar dit is die eerste keer in dié skool se geskiedenis van 33 jaar dat sy dramaleerlinge na die ATKV-Tienertoneelfinaal deurdring. Die finale been van dié kompetisie sal tussen 7 en 11 Oktober by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom plaasvind.
Daar sal hulle die dramastuk Hartskelder opvoer wat deur dr Pierre-André Viviers geskryf is en waarvan Mariki de Villiers-Knop die regie behartig.
Die dramastuk handel oor die lief en leed van Milla (Carissa Malherbe) en Benno (Werner Tolmay) wat as geliefdes in ‘n teaterkelder vasgekeer is.
Aktrise Antoinette Louw, beter bekend as die karakter Inge in die sepie 7de Laan het as beoordelaar die spel gekomplimenteer en genoem dat die toneelspel vir haar ‘n absolute plesier was om na te kyk.
Die kompetisie het in 1965 in die destydse Transvaal met 22 toneelgroepe begin – vandag 50 jaar later neem hoërskole van regoor die land deel en met meer as 180 toneelstukke wat ingeskryf word, is mededinging strawwer as ooit.
Groot name soos Christo Davids (Errol in 7de Laan), sanger Jak de Priester, Neels van Jaarsveld (dr Gideon Basson) om net ‘n paar te noem het hul talente op die ATKV-Tienertoneelverhoog geslyp.
Die wenskool ontvang R30 000 terwyl die naaswenner R20 000 sal ontvang. Die groep in die derde plek ontvang R10 000.
Die Hoër Meisieskool Bloemhof is verlede jaar aangewys as die wenner met Sneeuwitjie en die Sewe Zombies.
Die ATKV se droom vir dié kompetisie is om ’n liefde vir Afrikaanse toneelspel en -kyk by hoërskoolleerlinge te kweek sodat hulle hul kreatiwiteit en talente daardeur kan ontgin en ontwikkel.
Die beoordelaars tydens die finaal is Antoinette Louw, Gerrit Schoonhoven, Ira Blanckenberg, Johny Klein, Pedro Kruger, Shirley Ellis en Tina Kruger.
