Matriekafskeidrok-dilemma – wees bedag op die strikke
As jou matriekdroom in 'n nagmerrie ontaard.
Die rok. Die skoene. Die kar. Ja, dis weer daardie tyd van die jaar – regoor die land maak Graad 12’s hulle gereed vir die grootste gebeurtenis van hul matriekjaar; hul matriekafskeid.
Maar vir ‘n matrikulant aan die Hoërskool Noordheuwel was dié geleentheid byna ‘n ramp.
Chante Vorster het in Februarie reeds op ‘n ontwerp vir ‘n rok sowel die kleur en styl besluit en ‘n plaaslike rokmaker benader om haar droomrok te maak.
Die eerste paar passings het goed verloop maar nader aan die tyd het sy verskeie handwerkfoute raakgesien. Beloftes dat dit reggestel sou word is nooit nagekom nie.
Etlike dae voor haar afskied het Chante met ‘n ramp van ‘n rok gesit. Sy is nou in ‘n stryd gewikkel om die R7 000 terug te kry wat sy aan haar rok bestee het.
Vir toekomstige matriekmeisies wat deur koerante en tydskrifte blaai om hulle droomrokke te kies, klink dit soos ‘n nagmerrie en iets wat hulle eerder wil vermy.

Volgens ‘n voormalige ontwerper van Krugersdorp-Noord, Marisa van der Walt, is Vorster se geval een van hordes elke jaar.
Van der Walt sê dat die matriekafskeidseisoen ‘n tyd wanneer uitbuiters oral opduik.
Van der Walt gee die volgende wenke oor die ontwerp en maak van matriekafskeidrokke:
• Kry altyd ‘n verwysing: kyk na rokke wat die rokmaker reeds gemaak het, of skakel vorige kliënte van die rokmaker. “Voel, trek en kyk na die stikwerk op die rok,” sê Van der Walt.
• Kies materiaal noukeurig en neem in ag dat beter kwaliteit materiaal duurder gaan wees. Hoe meer detail op die rok beteken ook dat handwerk ook meer gaan kos.
• Begin vroegtydig aan jou rok werk. “Twee maande voor die funksie maak voorsiening vir ongeveer vier tot ses passings, wat voldoende is.”
• Kwaliteit kralewerk word gewoonlik aangewerk en nie opgeplak nie. “Pasop vir rokmakers wat daardie roete volg, dis hulle wat gewoonlik die maklike en slordige uitweg kies,” waarsku sy.
• Die rok moet ten minste ‘n week voor die afskeid klaar wees sodat die nodige verstellings nog gedoen kan word.
• Boetieks bly een van die veiligste opsies sê Van der Walt, en sy beveel gevestigde handelsname aan bo privaat rokmakers indien jy twyfel in die rokmaker se bevoegdheid.
• Sy noem dat dit van die uiterste belang is dat ondertekende kwotasies en kwitansie uitgereik en geliasseer word.
“Papierwerk is belangrik om die kliënt se verwagtinge op skrif te hê en om dan stappe te doen as daar nie daaraan voldoen word nie.”
• Nog ‘n belangrike teken om voor op die uitkyk te wees is die ontwerp self. Word dit vanaf ‘n gekoopte patroon gedoen of kan die rokmaker self die rok se patroon ontwerp?
