Video: Tonele vir plaasmoordfliek plaaslik verfilm
Steve Hofmeyer, Jana Strydom en ander bekendes kuier in Krugersdorp.
Tonele vir ‘n rolprent oor ‘n plaasmoord met die Afrikaanse sanger en aktivis Steve Hofmeyr in die hoofrol is onlangs in Krugersdorp verfilm.
Op die sesde dag van die verfilming van Treurgrond is die produksiespan na die bekende Herberg Hotel in Kommissarisstraat.
Groot name in die Afrikaanse filmbedryf was weereens in die rustieke hotel wat al ‘n bekende agtergrond vir verskeie rolprente en dokumentêre films was. Akteurs soos Deon Coetzee, Richard Lukunku en Jana Strydom was almal in die dorp om vir ‘n dag lank aan ‘n paar kroegtonele te skiet.
Op sy sosiale media platforms word Treurgrond beskryf as ‘n fliek wat wys hoe ‘n plaasaanval op een gesin ‘n hele gemeenskap kan raak.
“Dit is ‘n verhaal oor verhoudings, spyt, wraak, vergifnis en hoop,” lui die reklamestuk.

Die rolprent het dieselfde naam as ‘n boek oor plaasmoorde, maar is nie daarop gegrond nie. Die statistiek wat daarin voorkom is egter dieselfde as dié wat in die film genoem word.
Die regisseur van die rolprent is Darrell Roodt en dit sal 29 Mei 2015 in die teaters begin draai.
Volgens die twitter-blad oor die rolprent kom dit uit die stal van die vakbond Solidariteit en die burgerregte-organisasie AfriForum.
Die boek is gesamentlik deur generaal-majoor Chris van Zyl, assistent-hoofbestuurder van Transvaalse Landbou-unie (TLU SA), en dr Dirk Hermann van Solidariteit geskryf.
Kyk hier na die lokprent:
