Sluit aan by die stapklub die maand
Die Krugersdorpse Stapklub bied twee opwindende roete hierdie maand aan.
Stap is nie net goeie oefening nie, dit is ook baie goed vir die siel. Daarom nooi die Krugersdorpse Stapklub jou uit om saam met hulle twee opwindende roetes aan te pak.
Die eerste roete, Kranskloof, word vir 11 Oktober beplan.
Die roete is naby Buffelspoort-vakansieoord, en klimaatsgewys ook omtrent dieselfde. Hierdie is sekerlik een van dié mooiste roetes wat die klub ken. Aanvanklik lyk dit maar vaal en skynbaar baie vervelig, veral as mens op die eerste gedeelte na die kruin van die koppie toe stap.
Maar dan draai die stappers links en is skielik in die kloof. Wat ‘n aangename verrassing! Skielik is jy in die allermooiste omgewing denkbaar – kranse, water, rotse, noem maar op, alles is daar. Hier geniet stappers elke sekonde en elke tree wat hulle gee. Aan weerskante word jy beskerm deur loodregte kranse wat bo jou uittroon en daar is selfs ‘n grot of twee. Al is dit rotsagtig is daar baie plek om gemaklik te kan stap.
Somtyds moet jy ook maar beur en klouter teen die hoë rotse uit, maar dit bied ‘n uitdaging aan elke volbloedstapper wat die natuur in al sy vorms liefhet; maar as jy daar uitstap op pad terug, sê jy vir jouself “ek kom terug”.
Na hierdie roete word Pelendingwe vir 8 November beplan.
Hierdie roete is aan die Krokodilrivier in die Broederstroom-omgewing. Dit is ‘n boomryke roete, met slegs oop kolle op die hoë koppies. Die draai van die rivier lê vêr onder die koppe. Die roete bo-op die koppe loop saam met die rivier se kronkels.
Dit is ‘n baie lekker roete, ongeveer 10km lank, maar kan plek-plek nogal baie ruig wees, veral na die reëns. Die roete begin en eindig op die geskiedkundige Preller-plaas, en die ou familiebegraafplaas is een van die besienswaardighede op die terugtog.
Die opstal is ‘n nasionale monument, waar die bekende Eugene Marais ook sy laaste jare deurgebring het. Dit is ook deur die voormalige Atoomenergiekorporasie in die 1980’s en 1990’s gebruik as restaurant waar hooggeplaaste besoekers dikwels onthaal is. Die huis staan tans leeg, maar daar word gewoonlik ‘n bring en braai na afloop van die stap daar gehou.
Vir verdere inligting oor die stapklub en hul roetes, skakel vir Lu by 083 235 1958 of Phillip by 083 788 4555.
