Twee dae van 7’s-rugbyplesier
Die bestes van die bestes het aan hierdie toernooi deelgeneem en word as die ekwivalent van die Craven Week gesien.
Curro Krugersdorp Private Skool in Rangeview het onlangs gasheer gespeel vir die provinsiale o.13 Curro 7’s Rugbytoernooi.
Willem Strauss, die toernooipromotor, sê dit is die tweede keer dat dié toernooi aangebied is en dit was tot dusver ‘n groot sukses.
“Die bestes van die bestes neem aan hierdie toernooi deel. Dit is die ekwivalent van die Craven Week,” sê hy.
Altesaam 12 toernooie is reeds vanjaar gehou – 192 seuns, of 12 in ‘n span, het die 16 provinsiale spanne uitgemaak.

Strauss sê behalwe vir die feit dat die jong spelers dit baie geniet om op die veld te wees, bevorder dit ook hulle vaardighede soos fiksheid en oog-hand koördinasie.
“Hierdie kompetisie is uitstekend vir rugby-ontwikkeling. Ek dink dat 7’s-rugby se status ‘n hupstoot gekry het noudat dit ook by die Olimpiese Spele ingelyf is.”
Hy sê dit laat spelers besef dat Springbok-rugby nie die enigste platform vir rugby is nie.
Die kompetisie het oor twee dae plaasgevind en in die doodsnikke van die toernooi het die Westelike Provinsie vir Grens met 34 teenoor 19 geklop.
Boland het die derde plek behaal deur die Leeus met 19 teenoor nul te verpletter.
