NewsSchools

Jou voorbeeld reik wyd uit

Ouers en skole moet hande vat sodat elke jong mens die geleentheid van maksimale ontwikkeling kan hê.

“Die meeste van ons het ‘n behoefte om iewers vir iemand ‘n positiewe verskil te maak.”

Volgens Hoërskool Bastion-skoolhoof dr Anton Prinsloo klink dit so moeilik maar deur ‘n paar basiese riglyne toe te pas kan ‘n verskil gemaak word.

“Ons moet stories deel – stories van wenners, stories wat mense laat dink dis nie so moeilik om ‘n wenner te wees nie. As ‘n storie jou geroer het, is daar ook ander wat daaruit inspirasie kan put. Maak gebruik van stories wat jy in die media raaklees. Fotostateer uit koerante en tydskrifte, bêre die kosbare insette wat jy op die internet ontvang sodat dit op die regte tyd vir iemand besielend kan wees. Is hoop nie een van die grootste behoeftes van ons tyd nie?

“Hiermee saam gaan die roeping wat elkeen van ons – as ouer, as ‘n skool, as ‘n gemeenskap – behoort te hê naamlik om lees te bevorder. Lees u as ouer vir u jong kinders? Wat maak ons met tydskrifte wat ons klaar gelees het? Besorg dit aan iemand wat dit graag sal wil gebruik.

“Maak ons werklik daarvan erns om ons kinders bewus te maak van sinvolle loopbaankeuses? Tydskrifte, koerante en die internet hou ons op hoogte van waar die arbeidsbehoeftes van die land lê. Ouers en skole moet hande vat in hierdie proses sodat elke jong mens die geleentheid van maksimale ontwikkeling kan hê.

“Staan ons saam om respek teenoor ons omgewing prakties uit te leef? Hoe hanteer ek my leë glasbottels, plastiekhouers? Wat doen ons as ‘n gesin om deurlopend elektrisiteit te bespaar?

“Is my padgebruik ‘n voorbeeld vir die tieners in my motor? Sien hulle dalk hoe Pa na ‘n partytjie sukkel om die motor te hanteer?

“Selfbeheersing en selfdissipline is lewensvaardighede wat op vele terreine die verskil tussen positiewe en negatiewe resultate is.

“Finansiële dissipline by my en my gesin kan help om te oorleef! Klererekeninge kan ‘n euwel wees. Kredietkaartgebruik verg finansiële beplanning.

“‘n Begroting behoort met die gesin bespreek te word. Kinders verstaan as hulle feite tot hulle beskikking het.

“Selfdissipline ten opsigte van gesondheid is ‘n langtermynbelegging. Maak seker van eetgewoontes (en drinkgewoontes) wat bydra om die mediese uitgawes te beperk.

“U sien, ons leef nie in isolasie nie. My voorbeeld, my uitreik kring wyd uit en so maak ek ‘n verskil.”

Stem u saam? Deel u storie met dr Prinsloo deur ‘n epos te stuur na draprinsloo@iafrica.com of jeanetta@lubbe.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button