Met ‘n hokkiestok in die hand en ratse bewegings met die bal het Laerskool Kenmare se seuns- en dogterseerstehokkiespanne groot sukses behaal.
Beide spanne het die onlangse D2-hokkieligas gewen. Die D2-distrik bestaan uit skole van Krugersdorp, Randfontein, Magaliesburg, Fochville en Carletonville.
Die dogtershokkiespan het baie goed presteer onder leiding van Cara Crause. Dit is die eerste keer sedert 2005 dat die dogterseerstehokkiespan van Laerskool Kenmare daarin kon slaag om die D2-distriksliga te wen.

Hulle het in die eindstryd teen Fochville gespeel en twee teenoor nul gewen.
Die seunshokkie is nog baie jonk by Laerskool Kenmare. Dis in 2010 begin en die eerste groep wat toe in die o.9-span was is vanjaar in die o.13-span.
Gerhard Myburgh is die afrigter wat die seunsspan gehelp het in die finale wedstryd van die liga teen Monument Primary.
In ‘n naelbyt eindstryd het hulle met een teenoor nul gewen.
Wel gedaan Laerskool Kenmare, ons is trots op julle!
