Local newsNewsSchools

Lewe in die tronk nie ‘n Vyfster-episode nie

Leerling hoor die naakte waarheid oor misdaad.

Leerlinge van die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs is oor die donker en ligter aspekte van die Suid-Afrikaanse regstelsel ingelig gedurende ‘n praatjie deur motiveringsprekers teen misdaad, BACK2basic-B2b wat die skool Woensdag 15 Oktober besoek het.

Die naakte waarheid oor die gevolge vir dié wat aan die verkeerde kant van die gereg in Suid Afrika beland, is deur Karin Duffey, ‘n gewese landdros met 34 jaar diens in die Departement van Justisie, aan leerlinge oorgedra.

Duffey wat nie doekies omdraai in haar benadering tot kindermisdadigers nie het oor die lewe in die tronk, verkragting en geweld in die gevangenis en meer gepraat

Sy het ook ’n duidelike waarskuwing gerig aan leerlinge by die skool van wie sy weet wat hulle aan dwelmmisbruik en -handel skuldig maak.

Sanet Swart, ook bekend as gevangene 206307323, toer saam met Duffey en vertel van die lewe in “Sun City”, oftewel die Johannesburg-gevangenis.

“‘n Lewe in die gevangenis is alles behalwe wat die destydse TV-drama Vyfster vir die kyker skets. Dis hel, dis nag en jy is gelukkig om lewendig daar uit te kom,” sê sy.

Duffey verduidelik dat alhoewel die skokmetode ‘n groot deel uitmaak van hul strategie om die boodskap oor te dra dat ‘n lewe van misdaad nie betaal nie, doen hulle meer.

“Ons wil landwyd by skole ook vir kinders leer dat die hof hul vriend is en dat hulle enige vorm van misdaad teen hulle daar kan rapporteer,” sê sy.

Volgens Duffey is dit belangrik om hierdie tipe onderrig vir kinders op ‘n jong ouderdom te gee.

“Ons moet inspring terwyl kinders op die ouderdom is waar groepsdruk ‘n negatiewe impak op waarde- en beginselvorming het,” sê sy.

Volgens haar is ‘n gebrek aan respek een van die groot euwels van ons tyd en die rede vir meeste misdaad.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button