LettersLocal newsNewsOpinion

Koebaai Krugersdorp en duisend dankies

Tot ons volgende “hallo”, leef ligvoets, trap fyn en kyk mooi.

“Laat jou passie die nood van die wêreld ontmoet.”

Dié aanhaling het eendag raakgelees en in Krugersdorp het hierdie woorde vir my waarde gekry.

As ‘n verslaggewer het ek bietjie meer as ‘n jaar gelede by die Krugersdorp news aangesluit, uiwerig om oor alles te skryf wat in die dorp aangaan.

My Godgegewe talent om woorde aanmekaar te weef was meer as genoeg om die werk gedoen te kry.

Of so het ek gedink … min het ek geweet dat ek gou sal agterkom dat in elke huis waar ek koffie drink of op elke misdaadtoneel en in die stof van Krugersdorp se grond sou ek leer … dis maklik om te skryf maar dis nie so maklik as jy die een is waaroor daar geskryf word nie.

Die laaste tyd het ek dit herhaaldelik uit die perd se bek gehoor. “My engeltjie, dis maklik vir julle mense om te skryf, maar kom leef my lewe,” het ‘n Krugersdorp-man wat van al sy aardse besittings gestroop is onlangs vir my gesê terwyl die trane van sy wang afloop.

Daarom wil ek onverskoning vra as die ink te maklik of nie voldoende gevloei het as ek dalk oor jou of jou situasie geskryf het nie.

Jy sien liewe leser, verslaggewer is ‘n titel wat met ‘n reuse verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap gepaard gaan.

Net soos die brandweer en polisie moet ons iets veilig hou en soos goud oppas en dit is die feit dat die man op straat en sy opinie saak maak.

Die ouers wat sonder antwoorde sit oor hul kinders se moord, die vroue wat mishandel word, die kinders wat te nagekom is en die pensionaris met sy wysheid, ek kan name by elk van die beskrywings voeg oor wie ek in Krugersdorp geskryf het.

Vir die waarvoor ek ‘n stem kon wees, sê ek dankie dat julle my met julle hartseer, vrese, oorwinnings, mylpale, frustrasie en prestasies vertrou het.

Krugersdorp is ‘n skatkis – plek met mense wat meer as goud en edelmetale werd is en om deel te wees van julle was ‘n voorreg en ‘n eer.

Tussen die struikel en vaal hoop ek dat ek een ding kon regkry en dit is om dit duidelik te maak dat julle en julle opinies geld.

Dankie vir elke koppie koffie, saam lag, trane en lesse.

Tot ons volgende “hallo”, leef ligvoets, trap fyn en kyk mooi.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button