Monnas-atleet gekies vir internasionale Olimpiese byeenkoms
Die Hoërskool Monument-leerder het reeds drie Gauteng-titels agter haar naam en gaan nou haar hoogspringtalent op internasionale vlak ten toon stel.
Hoërskool Monument se Milan Blignaut is gekies om Suid-Afrika in hoogspring tydens die Dakar 2026 Jeug Olimpiese Spele in Senegal, van 10 tot 14 November te verteenwoordig.
Volgens Monnas se hoof van sosiale media, Suzaan Alberts, staan die skool bankvas agter Milan en wens haar sterkte toe met dié besondere geleentheid.

Milan het reeds drie Gauteng-wentitels verower en verskeie podiumplekke by Suid-Afrikaanse skole- en klubkampioenskappe behaal.
Benewens haar atletiekprestasies dien sy op die skool se matriekraad, presteer sy akademies, speel sy vir die o17A-netbalspan en blink sy uit in Visuele Kuns.
Sporttalent loop diep in haar familie. Haar oupa, Pierre Blignaut, is ’n bekende afrigter, terwyl haar neef Kyle Blignaut, ’n oud-Monumentaar, ’n Olimpiese gewigstootatleet is. Haar ouma, Gertruida Mulder, het ook as burgemeester van Krugersdorp gedien.
• Lees ook: Kyk: Huldeblyk aan wyle Pierre Blignaut
Die skool se sporthoof, Trompie van den Berg, het Milan aangemoedig om die wêreld te wys waartoe ’n Monumentaar in staat is.
