Local newsNews

Nuwe toekoms wink vir Kroningsparkers

Sommige inwoners is opgewonde om uit die park en hul haglike omstandighede te kom, maar daar is ook heelwat ander wat huiwerig is en onseker is oor wat vir hulle voorlê.

Terwyl die res van die wêreld al begin gereed maak vir die feesseisoen, stap die Kroningspark-inwoners na jare se verset teen uitsetting ‘n nuwe toekoms tegemoet, sê raadslid Amanda de Lange van die Vryheidsfront Plus.

Hoewel sommige inwoners opgewonde is om van die park en hul haglike omstandighede af weg te kom, is daar ook heelwat mense wat huiwerig en onseker is oor wat vir hulle voorlê.

Volgens De Lange is Mogale City gedetermineerd om streng by die hofbevel te hou dat daar behoorlike strukture vir elke gesin opgerig word en behoorlike water en sanitasiegeriewe by die betrokke area in Munsieville moet wees.

Sy sê die situasie word tans met die grootste empatie hanteer, want sommige van die inwoners kom al jare saam in hul gedeelde nood en vind die verskuiwing traumaties.

“’n Mens kan egter nie die feit wegredeneer dat hulle nie langer in die uiters haglike omstandighede in die park kon bly nie.” In Munsieville kry elke gesin ‘n splinternuwe struktuur en ‘n erf wat groot genoeg is om aanbouings te doen, asook ‘n tuintjie te vestig en diere aan te hou. Met lopende water en ‘n toilet op elke erf is dit alreeds honderd persent beter as wat hulle in Kroningspark gehad het,” sê sy.

Dit is belangrik dat die inwoners hul menswaardigheid terugkry en selfversorgend word, veral aangesien skenkings die laaste tyd begin opdroog het.

De Lange sê die eerste verskuiwings waarmee die Rooimiere Woensdagoggend 29 Oktober begin het, het glad verloop en die inwoners het bevestig dat die beamptes hulle en hul karige besittings met die nodige respek hanteer het.

“Die groep wat nou hervestig word is gesinne sonder kinders op skool. Volgens die hofbevel sal die gesinne wat kinders op skool het, hervestig word sodra die skole in Desember sluit,” sê sy.

Verwante artikels:

• A bleak future for Coronation Park squatters?

• White squatters welcomed: “This is nobody’s land but God’s land”

• Wit plakker vertel van armoede

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button