Skool ondersteun kankerlyers
Laerskool Dr Havinga het onlangs 163km afgelê tydens Kansa se sewende Relay for Life.
Deur liefde en ondersteuning het drie ‘familielede’ van Laerskool Dr Havinga in Witpoortjie eerstehands kennis gemaak met die feit dat daar steeds mense is wat omgee.
Dié skool in Roodepoort se leerlinge het onlangs 163km tydens die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) Wes-Gauteng se sewende Relay for Life gestap wat by Hoërskool Monument gehou is.
Tydens die Relay for Life het deelnemers tent opgeslaan, seker gemaak daar is genoeg koffie om deur die nag te kom en mekaar met baie aansporing gehelp om te sien hoeveel keer die onderskeie spanne om die rugbyveld kon stap.
Hierdie geleentheid word jaarliks gehou sodat die gemeenskap kan wys dat hulle nie van kankerlyers vergeet nie en hulle ondersteun.
Dr Havinga het vanjaar se staptog aan personeellid Ansie van Dyk en leerlinge Nico Flowers en Jayden Scholtz gewy.
Ansie het in Mei 2012 gehoor dat sy kolonkanker het wat na haar longe versprei het en sê dat sy baie dankbaar is vir die omgee wat sy van almal en veral van haar werkgewer en kollegas kry.
“Die skoolhoof, Leon Visser is baie ondersteunend en is my baie goedgesind. Hy het nooit ‘n probleem gehad wanneer ek vir chemo en bestraling moes gaan nie.”
Sy sê dit was vir haar ‘n groot skok toe die dokter vir haar sê dat sy kanker het.
“Ek was eers baie hartseer en het daaroor gehuil, maar ek het besef dat dit nie gaan help om op ‘n hopie te sit en te huil nie. Iemand moet steeds die Mastercard betaal,” skerts sy.
“Ek maak nie grappies oor kanker nie, want dit is beslis nie lekker nie; ‘n mens moet net positief bly.”
Sy was effens aangedaan toe sy vertel hoe wonderlik dit is om die Relay for Life by te woon en te sien hoe die mense vir haar en ander kankerlyers stap.
Dit lyk of sy die kanker oorwin het, maar sê dit was wat sy verlede jaar ook gehoop het toe dit weer verlede Oktober teruggekeer het.
Jayden, 10, is in September 2009 as vyfjarige met leukemie gediagnoseer en sy ma Hilda sê sy het met die Here se genade daardeur gekom.
“Dit was vir ons net so ‘n groot skok. Hy moes vir ses maande lank chemo ontvang en kon vir daardie tydperk met geen kinders van sy ouderdom in aanraking kom het.”
Die daaropvolgende jaar is hy skool toe waarna hy vir nog drie jaar vir die kanker behandel is.
Sy ouers het hulle kleinhoewe in Randfontein verkoop en in Mindalore gaan woon om nader aan die hospitaal en sy skool te wees.
“Op die oomblik is daar geen tekens van leukemie nie en ons is vasbeslote dat dit so sal bly. Hy gaan nog elke drie maande vir opvolgbesoeke sodat ons seker kan wees.”
Sy sê sy voel dankbaar en trots om ‘n ouer van Dr Havinga te wees.
“Ek kan nie vir jou vertel hoe dankbaar ek is vir elke uitreikaksie en ondersteuning wat ons kry nie. Dit word baie waardeer.”
Nico Flowers, 7, oor wie die news al voorheen berig het en tans behandeling ontvang vir fase-4 limfoomkanker se ouers het vertel dat hulle baie dankbaar is vir al die hulp wat hulle van die gemeenskap kry.
