Local newsLocal sportNewsSport

Laaste staptogte vir die jaar

Hierdie is die laaste twee geleenthede om saam met die stapklub te gaan stap.

Die Krugersdorpse Stapklub bied nog net twee staptogte aan.

Die klublede sal op 8 November by Peledingwe gaan stap.

Hierdie roete is aan die Krokodilrivier in die Broederstroom-omgewing. Dit is ‘n boomryke roete, met slegs oop kolle op die hoë koppies en die draai van die rivier vêr onder die koppe. Die staproete bo-op die koppe loop saam met die rivier se kronkels. Dit is ‘n baie lekker roete, ongeveer 10km lank, maar kan plek-plek nogal baie ruig wees, veral na die reëns.

Die roete begin en eindig op die geskiedkundige Preller-plaas, en die ou familiebegraafplaas is een van die besienswaardighede op die terugtog. Die opstal is ‘n nasionale monument waar die bekende Eugene Marais ook sy laaste jare deurgebring het. Dit is ook deur die voormalige Atoomenergiekorporasie in die 1980’s en 1990’s gebruik as restaurant waar hooggeplaaste besoekers dikwels onthaal is.

Vir 13 Desember word Groenkloof aangepak.

Dit is een van ons gunsteling staproetes wat langs die Pretoria Tuine in die relatief nuwe wildreservaat geleë is. Dit is 10km lank. Hierdie is werklik ‘n pragtige roete, met sy effens moeilik-faktor, maar al die wilde diere (nie die groot vyf nie) is ‘n bonus. Daar is verskillende rooibokke, wildebeeste, kameelperde en kwaggas; ‘n fees vir die oog. Veral kinders geniet hierdie roete baie. Die omgewing is baie mooi, en is bedoel vir diegene wat ‘n bietjie gemakliker wil stap.

Die roete is baie goed versorg. Bergfietsryers gebruik ook die omgewing, maar ry nie op die staproetes nie. Jy kan nog ‘n trein daar onder sien verbyry, en daar is ook verkeer ver onder, maar jy sien dit nie heeltyd nie, net so aan die begin van die roete. Hulle het ‘n mooi piekniekterrein waar geparkeer word, en hier word daar gewoonlik ‘n vleisie gebraai as daar klaar gestap is.

Stappers vergader by Fruit & Veg by Heritage Square om 7.15vm.

Vir verdere besonderhede kan Lu by 083 235 1958 of Phillip by 083 788 4555 geskakel word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button