Armstoei vir liefdadigheid
Driejarige inspireer kroegeienaars om 'n liefdadigheidsgeleentheid te hou.
Sweet, spiere en sports was die tema by Lizzie’s Place Worxshop & Dance se eerste liefdadigheidsmakietie.
Oud en jonk het gekom om die geselligheid by te woon, te ondersteun en veral om fondse in te samel vir die Kruger-gesin van Randfontein.
Eienaars van die nuwe kuierplek, Yvette en Tersia Cronjé het dit goed gedink om met ‘n armstoeikompetisie vir liefdadigheid af te skop.
Na die vermaak, wat aangebied is deur Tihan van der Walt en André Cloete van Kreatiek Entertainment, het die armstoei begin.
Mediese personeel was op bystand, sou iemand ‘n besering opdoen.
Die fondsinsameling was vir die driejarige Jacobus Adriaan Kabous Kruger, wat reeds voor sy geboorte ‘n beroerte gehad het. Toe Kabous twee maande oud was, het die klinieksuster vir Nicoleen aangeraai om Kabous na ‘n neuroloog te neem omdat sy brein skeef ontwikkel het.
Die seuntjie het reeds sowat 40 persent van sy linkerbreinfunksie verloor en kan dus nog nie loop nie. Kabous dra ook steeds doeke en Nicoleen sukkel om ‘n geskikte melkformule vir hom te kry omdat sy eetlus baie swak is.
“Deur die vriendelike hulp van ons borge wat die pryse vir die armstoeiwenners geskenk het sowel as die lootjiekaartjies en inskrywingsgelde, kon ons R1 730 in kontant aan die ouers oorhandig. Kabous se ouers het ook R560 in kontant ingesamel deur worsrolletjies by die geleentheid te verkoop,” sê Cronjé.
Die Kruger-gesin beoog om Kabous vroeg volgende jaar na ‘n voetspesialis te neem om vas te stel waarom hy nie kan loop nie.
“Die doel van die geleentheid was om bewustheid te skep vir Kabous se behoeftes en dan natuurlik fondse te begin insamel vir sy spesiale loopstuk wat tans R38 000 kos. Alhoewel ons insameling ‘n druppel aan die emmer was, is dit darem ‘n begin.”
Indien enige iemand ‘n bydrae wil gee, kan hulle Nicoleen Kruger by 082 596 7800 kontak.
Vir meer foto’s kliek hier: Sweet, sports en armstoei
