EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Haak uit saam met Hennie

Homann en Vibe Entertainment tree nou by verskeie kroeë in die area op en is ook beskikbaar vir korporatiewe funksies.

Hennie Homann is nie jou gewone 61-jarige man nie. Hy beskou homself as ‘n gebore entertainer.

Homann het sowat 12 jaar gelede Vibe Entertainment begin en skep beslis ‘n vibe wanneer hy partytjiegangers vermaak. Hy is ‘n partytjiedier wat jou tot in die middernagtelike ure op die dansvloer gaan hou.

“Ek was nog altyd lief vir lekker kuier, ‘n gesaamsingery en dans en het altyd probeer om die partytjie aan die gang te hou,” vertel Homann van die dae voor hy Vibe Entertainment begin het.

Hy noem dat hy ‘n karaokesisteem gehad het en karaokesessies as stokperdjie aangebied het. Bedags het Homann ‘n gebruikte voertuie verkoop, maar sy hart het nog altyd by vermaak gelê.

“Ek het een aand by die destydse Big 5 naby Krugersdorp saam met my vriend karaoke net vir ‘n dop en tjop aangebied. Daarna is die res, soos hulle sê, geskiedenis.”

Homann het ook sy verloofde Petro Newman so ontmoet. Nie net sy voete was onder hom uitgeslaan deur hierdie blonde, musikale vrou nie, sy was net so mal oor lekker kuier soos Homann.

Homann se reputasie het daartoe gelei dat hy genooi is om ‘n vertoning in Brakpan te doen. Dié keer moes hy sorg vir meer as net karaoke; hy moes die gehoor die hele aand lank vermaak.

“Kort daarna het die president van die Brakpan Rugbyklub my ‘n jaarkontrak aangebied om by hulle funksies op te tree. Ek en Petro is toe sak en pak Oos-Rand toe.”

Binne vier maande het Homann sy aandeel in sy besigheid aan sy vennoot verkoop en entertainer het sy hoofberoep geword.

“Toe het ek groot naam vir myself begin maak,” skerts Homann.

Die paartjie het ‘n landwye karaokekompetisie op ‘n groot skaal aangebied en Vibe Entertainment was oral bekend.

Maar toe het hulle begin sukkel en is weer terug Wes-Rand toe waar hulle van voor af naam moes maak.

“Dit is ook al amper ses jaar terug. Stadig maar seker het ons weer gigs gekry en deesdae is ons besig genoeg om kop bo water te hou.”

Hy noem dat hy kroeë in die omgewing genader het om sy dienste aan te bied, maar dat hulle nie altyd gewillig was nie. Hy het toe vir hulle gratis oudisies in die vorm van optredes gedoen totdat hulle ingestem het om hom ‘n kans te gee.

Homann en Vibe Entertainment tree nou by verskeie kroeë in die area op en is ook beskikbaar vir korporatiewe funksies.

“Musiek het op die regte tyd in my lewe ingekom en alles verander. Ek is ‘n entertainer wat tot die suurste knol in die gehoor sal kry om ‘n bietjie uit te haak. Ek doen geen beplanning nie, ek check die crowd uit en weet presies hoe om mense te laat ontspan.”

Indien jy meer wil weet van Vibe Entertainment en Homann, besoek sy webtuiste by www.hennievibe.info of sy facebook-blad Hennie Homann.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button