Local newsNews

Klere lyk al soos rokke na gewigsverlies

John Barnardt het in Mei-maand 302kg geweeg, maar nou kan hy glimlag nadat hy en sy vrou Cindy saam reeds 101kg afgeskud het.

Wanneer John Barnardt, 37, nie besig is om vir reg en geregtigheid te baklei nie, voer hy sy eie stryd teen sy swaar liggaamsbou.

Barnardt, of Big John soos die gemeenskap hom ken, het in Mei vanjaar by Sportcon Fitness & Performance Centre aangesluit toe hy nog ‘n allemintige 302kg geweeg het.

Ter ondersteuning het sy vrou Cindy ook aangesluit en nou ses maande later kan hulle spog dat hulle saam reeds 101kg verloor het.

Barnardt weeg nou 232kg en sê dit was aanvanklik nie baie maklik om dit reg te kry nie.

“Die pad was lank en hard, maar vandag kan ek met trots sê ek het dit gedoen en vir my is dit ‘n baie lekker gevoel.”

Waar hy voorheen nie langer as tien minute kon staan of ‘n nag deurslaap nie, is dit alles nou moontlik.

Hy vertel dat hy voorheen eers buite Sportcon se gebou moes rus voordat hy by die deur kon instap, maar vandag kan hy sonder moeite van sy motor af daarheen stap.

Sportcon-eienaar Stian Weideman lag en sê hy kan selfs daarheen hardloop.

“Maar dit was net omdat ek een keer laat was vir ‘n gimsessie,” keer Barnardt gou.

Hy sê sy klere pas hom ook nou al beter.

“Om die waarheid te sê pas klere wat ek as 26-jarige gedra het my nou weer. My nuwer klere lyk al soos rokke wanneer ek dit aanhet,” lag hy.

Sy vrou sê hulle kinders ondersteun hulle ook baie en maak seker hulle eet nie die verkeerde kos nie.

“Ek wil volgende jaar my seun se rugbywedstryde kan bywoon en self weer klubrugby speel,” sê Barnardt.

“Daarom sal ek bly deurdruk en nie verkeerde koskeuses maak nie.”

Cindy sê sy is baie trots op haar man.

“Ons kan weer baie dinge saam doen. Voorheen kon net ek en die kinders dinge doen en nou voel dit vir my of ek weer my man wat ek leer ken het, terug het.”

Weideman sê hy is self in sy noppies oor albei se vordering.

“Dit is ‘n lang proses, maar dit is iets wat jy self moet doen. Ons is die voertuig wat jou lei alhoewel jy dit moet bestuur en self die petrol moet ingooi. Dit hang dus van jouself af wat jy daaruit gaan kry.”

Hy erken dat ‘n goeie steunsisteem die beste manier is om gewig af te skud.

Soortgelyke artikels:

Sê totsiens vir groot klere by dié gim

Nou gim-instrukteur ná hy self meer as 70kg verloor

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button