Oudste hartontvanger leef voluit
'n Vrou van Wentworthpark is onlangs ingelig dat sy die oudste vroulike oorlewende hartontvanger in die wêreld is.
Op 50-jarige ouderdom is Hendrika van Wyk die oudste vroulike oorlewende hartontvanger in die wêreld – en sy woon aan die Wes-Rand.
Hierdie brokkie inligting is onlangs by ‘n funksie deur Netcare in Sunninghill bevestig waar sy en nog ‘n hartontvanger, wat reeds 20 jaar met sy nuwe hart lewe, ‘n geskenk ontvang het.
Hendrika sê dié funksie is gehou om die publiek meer bewus te maak van die hart asook om mense in te lig oor die proses oor hoe om as orgaanskenker te registreer.
Met die news se besoek aan haar huis in Wentworthpark waar sy saam met haar man Hendrik – met wie sy reeds 21 jaar getroud is – en 18-jarige dogter Rika-Mari woon, het sy met graagte haar storie gedeel.
Daar is deur ‘n foto-album met al die artikels en foto’s wat oor haar hartoorplanting gepubliseer is geblaai.
Van Wyk sê sy was nog altyd siek, maar haar probleme het vererger toe sy in 1982 as 18-jarige griep gekry het. Dit het haar hartspier aangetas en die behandeling wat sy ontvang het was nie meer effektief nie.
“Die dokters het aan my ma gesê die enigste manier dat ek sal kan voortleef is om ‘n nuwe hart te kry. In daardie stadium was ek ‘n proefkonyn en enige iets kon skeefloop.”
Op 19 November 1982 het sy, ‘n dokter en ‘n verpleegster na die Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad gevlieg. In daardie stadium was dit die enigste hospitaal in die wêreld waar hartoorplantings uitgevoer kon word. Sy het die volgende dag gehoor dat daar ‘n skenker vir haar gekry is.
“Ek wou nooit regtig uitvind wie die skenker was nie, want ek het geworstel met die gedagte dat iemand wat gesond is moes sterf om vir ‘n siek mens soos ek ‘n nuwe lewe te kon gee. Daarvoor het ek lank berading ontvang omdat dit ‘n baie emosionele tydperk was,” het sy gesê.
“Al wat ek weet is dat dit ‘n 21-jarige man was.”
Daardie Kersfees het sy in die intensiewesorgeenheid deurgebring en is in die nuwe jaar ontslaan.
“Ek het fantasties gevoel met die nuwe hart. As ‘n mens so lank siek was en nie ‘n gesonde hart het nie, voel ‘n mens weer vernuwe.”
Na die sukses van die hartoorplanting wat deur professor Demitri Novitsky uitgevoer is, moes sy elke ses maande en daarna elke jaar vir opvolgbesoeke gaan.
Van Wyk sê sy kan nie net stilsit by die huis nie en is reeds amper 30 jaar lank ‘n menslike hulpbronne-bestuurder by ‘n kwekery in Muldersdrift.
“Ek probeer om my lewe te geniet. Baie mense besef nie dat geld nie geluk kan koop nie. Geniet eerder die tyd saam met familie en ander geliefdes, want jou lewe kan in ‘n oogwink verby wees.”
