Oues geniet Kersete
Vir baie van die dorp se bejaardes sal hierdie Kersete die enigste tikkie Kersfees wees wat hulle sal ervaar.
Ongeveer 80 bejaardes van die Krugersdorp gemeenskap is onlangs met ‘n heerlike Kersete en -geskenkies bederf.
Trudie Naudé, stigter van die Mug & Tree Gemeenskapsorgsentrum in Krugersdorp-Wes het gesê hulle bied die Kersfunksie elke jaar aan en berei reeds van vroeg af daarvoor voor.

“Dit is vir ons lekker om die glimlagte op die ou mensies se gesigte te sien. Vir ons is dit al ‘n instelling om die bejaardes aan die einde van die jaar te bederf en maak reeds van vroeg in die jaar af fondse vir hierdie doel bymekaar,” het sy gesê.
Sy sê vir baie van die bejaardes is hierdie ook die enigste lekker Kersete wat hulle sal geniet.
“Baie van dié mense is alleen gedurende Kersfees terwyl ander weer nie hulle families sien nie. Ons probeer om dit vir hulle baie spesiaal te maak.”

Verskeie soet en sout vingerhappies is op die tafels vir die bejaardes voorgesit voordat hulle aan ‘n heerlike middagete kon smul. Sanger Ernie Bates het die bejaardes op die dansvloer gekry met sy plesierige danstreffers.
Trudie sê dit sou nie vir hulle moontlik gewees het om dié funksie aan te bied as dit nie was vir al die hulp wat hulle van die gemeenskap ontvang het nie.
“Die gemeenskap is onbeskryflik goed vir ons. As dit nie vir hulle was nie sou ons nie kop bo water kon hou en oorleef nie.”
Sy bedank ook graag vir Johan en Magda Taljaard, eienaars van Bella Finesse Wedding Flowers wat baie van die werk gedoen het en die eetgoed verskaf het.\
Vir meer foto’s kliek hier.
Verwante storie:
• Grain Care bederf bejaardes weer
• Bejaardes geeër by bederf-geleentheid
