CrimeNews

Gewapende rowers hou huiswerker aan

'n Huiswerker van Monument is deur huisrowers aangehou wat huishoudelike goedere van meer as R15 000 gebuit het.

Sharon Molai het histeries vir haar werkgewers geskree oomblikke nadat vier gewapende mans in oorpakke die huis in Piet Joubertstraat beroof het.

“Ek het gedink hulle gaan my gun!”

Olive van Schalkwyk, 52, sê hulle het een Donderdagmiddag van President Hyper af teruggekeer toe hulle vir Molai in die straat sien rondhardloop.

“Dit was net na 12vm daardie dag. My seun was oomblikke voor die inbraak nog by die huis so die laaste ding wat deur ons koppe gegaan het was dat ons beroof is.”

Sy sê haar seun Jaco, 27, is President Hyper toe om die spaarsleutel van haar en haar man Deon se motor vir hulle te bring nadat sy die ander sleutel iewers by die winkelsentrum verloor het.

Hy was toe reeds daar weg.

Molai sê sy was besig met die strykwerk toe sy ‘n helse slag hoor, wat soos ‘n harde klop aan die voordeur geklink het.

“Sy het gedink dit is my seun en kon nie verstaan hoekom hy sou klop nie, want hy het ‘n sleutel,” sê Van Schalkwyk.

Toe sy by die voordeur kom het die mans reeds die sekuriteitshek oopgebreek en ‘n geweer teen haar kop gedruk.

“Een van hulle het haar aangehou en haar in Zulu beveel om stil te bly,” verduidelik Van Schalkwyk.

“Die ander drie het soos mal goed in die huis rondgehardloop en gegryp wat hulle kon.”

Die geskatte waarde van die huishoudelike goedere wat gebuit is, is R17 000. Die rowers is ook weg met Deon se werkgewer se skootrekenaar en met Molai se selfoon.

Sy sê nadat al vier die mans na enkele minute by die huis uit is, is Molai al kruipend na die voordeur om te sien of hulle weg is.

“Dit is toe dat sy sien ‘n blanke man trek ‘n bakkie uit die erf uit. Iemand het vir die rowers gewag,” sê Van Schalkwyk.

“Ek sidder om te dink wat met ons sou gebeur het as ons vroeër daar was en hulle vasparkeer het.”

Haar man Deon, 59, sê hy het 12.15nm die polisie gebel.

“Die Gemeenskapspolsiëringsforum-lede van Sektor 4 was regtig gou op die toneel,” sê hy.

Molai het intussen ook berading ontvang, sê Van Schalkwyk.

“Dit is die eerste inbraak wat ons het vandat ons ‘n jaar en ‘n half terug hier ingetrek het. Ek het sommer ook my tuindienste gekanselleer omdat ek nie weer vreemde mense in my erf wil hê nie,” sê Van Schalkwyk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button