Havies is hartseer na kankerlyertjie se afsterwe
"Mag God al Nico se liefhê-mense vertroos en versterk in die hartseer dae wat voorlê" – Laerskool Dr Havinga-hoof.
“Sy plekkie is leeg in ons skool en ons gaan hom baie mis.”
Dit is hoe Leon Visser, hoof van Laerskool Dr Havinga die heengaan van Nico Flowers, ‘n Graad 1-leerling aan die skool, beskryf.
Nico, 7, het sy stryd teen Hodgkin’s Limfoom op 29 November verloor.
“Klein Nico was maande lank daagliks in die harte en gebede van ons personeel, kinders en ouergemeenskap,” sê Visser in ‘n persverklaring.
“Die skool is aan die hart geruk met sy heengaan en deel in sy familie se hartseer – ons betuig graag ons innige simpatie en meegevoel aan sy ouers, sussie en familie. Sy plekkie is leeg in ons skool en ons harte.”
Hy sê die skool dra Nico se gesin in hulle gebede op.
“Mag God al Nico se liefhê-mense vertroos en versterk in die hartseer dae wat voorlê.”
Nico se kort lewe op aarde sal Donderdag 4 Desember om 11vm by die Veranderde Lewens Kerk, in Georginia, Roodepoort tydens sy begrafnisdiens herdenk word.
Verwante artikels:
• Video: Kankerlyertjie verloor stryd
• Video: Speeltyd vir kankerlyertjie
