Vandag herdenk miljoene mense die afsterwe van een van Suid-Afrika se grootste politieke geeste: Nelson Mandela.
Toe my redakteur Janine Viljoen my vra om my ervaring met ons lesers oor Madiba, soos hy wêreldwyd bekend staan, te beskryf en ook hoe ek van sy dood bewus geword het, het ek vir ‘n oomblik gehuiwer.
“Wat is daar dan nog om oor dié man wat as ‘n wêreld-ikoon beskou word te skryf?” het ek gewonder.
Dit is tóé dat ek besef dat dit nie meer gaan oor wat ek van hom onthou nie en óók nie wat daar in die verlede al oor hom geskryf is nie. Die herdenking van sy dood moet grotendeels handel oor hoe ons as ‘n nasie hande in vrede moet vat en mekaar eerder met liefde moet omhels as om te haat, want dit is ‘n ideaal waarvoor Madiba bereid was om dood te gaan.
Hy het self gesê dat ‘n mens nie gebore word om ‘n ander mens te haat nie.
“Mense leer om te haat; hulle kan ook geleer word om lief te hê, want liefde is ‘n emosie wat net die menslike hart kan verstaan.”
Elke jaar op sy verjaardag wys Suid-Afrikaners en die res van die wêreld vir 67 minute dat kleur nie ‘n rol speel wanneer dit kom by omgee nie; iets waarvoor hy 67 jaar van sy lewe opgeoffer het.
“Ek het geveg teen wit oorheersing en ek het geveg teen swart oorheersing. Ek het die ideaal van ‘n demokratiese en vrye samelewing gekoester, waar alle mense in harmonie en met gelyke geleenthede saamleef. Dit is ‘n ideaal waarvoor ek lewe en wat ek hoop om te bereik. Maar indien nodig, is dit ‘n ideaal waarvoor ek bereid is om te sterf.”
Wat ek dus van Madiba sal onthou is dat hy ‘n man was wat geglo het dat niemand – ryk of arm, wit of swart – beter as ‘n ander persoon is nie maar dat mense mekaar as gelykes moet beskou.
Toe ek die nuus van Madiba se afsterwe kry was ek by ‘n vakansieoord op die oewer van Hartebeespoortdam in Noordwes. Sy afsterwe was nie ‘n skok nie omdat ons ons reeds maande lank daarop voorberei het en dit eintlik verwag het – hy was immers al 95 jaar oud.
Ek onthou nog hoe ek gedink het dat die weer ook oor sy dood getreur het omdat die lug grys en somber was en die hemel se sluise oopgetrek was.
“Vandag huil die aarde saam met ons,” het ek gedink.
Verwante artikels:
