VIDEO: Fondsinsameling alles behalwe ‘n grap
Die gehoor het tydens die opvoering byna van hulle stoele afgeval van die lag. Die aand is afgesluit met 'n lekker gekuier.
Die Krugersdorp Rotariërklub het ‘n vrolike dinee en skreeusnaakse vertoning ter wille van liefdadigheid by die Golden Age Village aangebied.
Die klub en die Wes-Rand Skoutrustfonds het daardie aand ook R25 000 aan verskeie organisasies geskenk.
Die organisasies sluit in Gateway Skool, die Gideons se Bybelverspreiding, die Heilsleër, SA Rooikruis, Light Centre for Children with Disablities, Polokego Hawe vir mishandelde vroue en kinders, Christmas Tree Fund en die Cradle of Hope.
Dylan van Wyk het die gaste betower met sy stem nadat die oorhandiging gedoen is. Die gaste het ‘n heerlike ligte maaltyd geniet in afwagting op die oud-Krugersdorper en bekende Binnelanders aktrise, Desiré Gardner, om die verhoog op horings te neem.
Desiré is bekend vir haar rol as Daleen in kykNET se Binnelanders, maar doen graag haar eenvrou-toneelstuk Magda Louw in haar vrye tyd.
Die funksie was ook ‘n fondsinsameling aangesien Desiré die vertoning gratis aangebied het.
Volgens Desiré is Magda Louw ‘n komiese kyk na iets wat vroue in hulself kan raaksien en hopelik waardeer, en saam meer kan lag. “Ek sien dit elke dag meer en meer, ook nou in myself, soos ek ook die pad stap na die herfs wat wag,” het Desiré gesê.
Die gehoor het tydens die opvoering byna van hulle stoele afgeval van die lag. Die aand is afgesluit met ‘n lekker gekuier.
“Ek wens almal ‘n gelukkige Kerstyd toe en sê baie dankie vir al die ondersteuning die afgelope jaar,” het Dehlia van Staden van die Wes-Randse Kamer vir Besigheid en Toerisme gesê.
Kyk gerus na die skreeusnaakse video hier:
