CrimeNews

Vrou in ‘veilige’ wildreservaat vermoor

'n Vrou is vanoggend doodgesteek toe vyf mans haar en haar man oorval het.

Ten spyte daarvan dat die Letamo Wildreservaat in Kromdraai ‘n elektriese omheining het en dag en nag deur sekuriteitswagte gepatrolleer word, is Jill Masterton, 62, na bewering vanoggend daar vermoor.

Terry-Ann Booyse, woordvoerder van die sekuriteitsmaatskappy Drift Reaction, sê hulle is verlede week oor ‘n inbraak ingelig en dat die inwoners aangeval is.

Met hulle aankoms op die toneel was die polisie reeds daar.

“Inligting dui daarop dat ‘n inwoner na buite is om ondersoek in te stel waarom sy honde blaf. Die oomblik toe hy sy deur oopgemaak het, is hy deur vyf mans oorval, waarvan drie van hulle vuurwapens gehad het,” het sy gesê.

“Hulle het hom in die huis teruggedwing en hom en sy vrou vasgebind voordat hulle die huis begin plunder het op soek na waardevolle items.”

Sy het gesê die paartjie is vermoedelik na verskillende vertrekke geneem en die inbrekers het haar toe glo probeer verkrag. Toe sy haar teëgesit het, is sy met ‘n mes doodgesteek.

Quick Response Ambulansdiense en Iron Fist Squad se personeel het alles in hulle vermoë gedoen om Masterton by te bring, maar kon nie.

“Haar man was op daardie stadium nog in skok, wat te verstane is, daarom sal ons vandag met hom gesels om inligting oor die misdadigers te kry,” het Booyse gesê.

Sy het ook genoem dat hulle eie gespesialiseerde ondersoekspan reeds ‘n ondersoek van stapel gestuur het.

‘n Inwoner van die wildreservaat wat anoniem wil bly sê hierdie voorval maak ‘n mens nog meer sekuriteitsbewus.

“Ek glo nie ‘n mens sal regtig veiliger op ‘n ander plek wees nie – niemand is meer veilig nie al word die perseel omhein of met sekuriteit beveilig.

“Ek is beslis ontsteld oor die voorval omdat die paartjie ‘n paar huise van ons af in dieselfde straat woon.”

‘n Bestuurder by die wildreservaat het aan die news gesê hulle kan nie enige inligting aan die media beskikbaar stel voordat die direkteure hulle die groenlig gegee het nie.

Kaptein Appel Ernst, ‘n polisiewoordvoerder bevestig die voorval en het gesê dat ‘n saak van huisroof en moord deur die polisie oopgemaak is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button