Twee jong patrolleerders van die Sekor 9 Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het ‘n dieseldief met ‘n stootwaentjie vol kanne betrap.
Riaan Smith en Ettienne Swanepoel was besig om die strate van Mindalore en Lewisham te patrolleer toe hulle op ‘n verdagte voertuig afgekom het. Die twee het by die huis gestop en met die inwoners wat die insident aangemeld het, gesels.
“Die voertuig het onmiddellik spore gemaak toe hulle ons oranje lig sien,” het Smith vertel.
Hulle het toe ‘n man op die hoek van Station- en Harveystraat gesien wat ‘n stootwaentjie met vier 25 liter-dromme in die straat afgestoot het.
“Ons het toe langs die man gestop en hom gevra hoekom hy ‘n trollie vol kanne drie-uur in die oggend rondstoot.”
Die twee patrolleerders het eers vermoed dat dit water was toe die verdagte aan hom verduidelik het dat dit ou enjinolie was wat hy by ‘n vriend gekry het.
Alhoewel Smith snuf in die neus gekry het, het hy kalm gebly en verder gepatrolleer.
“Toe ons ry het ek so ewe vir Ettienne gesê ek ruik diesel en dat ek nie geglo het dit was olie nie.”
Hulle het om die blok gery en toe ‘n tweede keer by die verdagte stilgehou.
Smith en Swanepoel het die verdagte gekonfronteer oor die inhoud van die kanne, waarop hy paniekbevange gereageer het. Dit het Smith se vermoede oor die diesel bevestig.
“Toe vra ek die man hoekom hy gelieg het oor die inhoud. Ek’t hom gevra om te sit sodat hy nie kan weghardloop nie en ook waar hy die diesel gekry het. Hy’t weer gesê by ‘n vriend. Toe ek hom vra waar die vriend was, was dié kwansuis klaar weg.”
‘n Polisievoertuig het by die toneel opgedaag om bystand aan die patrolleerders te verleen.
Nadat die polisie die verdagte deursoek het, het hulle ‘n mes, tang en draadknipper in sy besit gevind. Hy is summier in hegtenis geneem.
Smith en Swanepoel het toe gesien hoe ‘n wit bakkie van die toneel af wegjaag.
Hulle het dadelik die bakkie agternagesit en vasgekeer. Die verdagtes in die bakkie het ook nie ID’s of bestuurslisensies by hulle gehad nie en die vermoede was dat dit heel moontlik die verdagte se wegkomvoertuig was.
Die drie verdagtes in die bakkie is ook in hegtenis geneem.
“Alhoewel ons nie die eienaar van die gesteelde diesel kon opspoor nie, is ek net bly dat ons ‘n bydrae kon maak om die diewe agter tralies te sit,” het die twee patrolleerders gesê.
