‘n Pasgebore babaseuntjie is gistermiddag 8 Desember in ‘n plastieksak agter ‘n kragboks gevind.
Francis Olivier vertel dat ‘n voetganger, Sweetness Dyonase, iets soos ‘n tjankgeluid gehoor het, toe ondersoek ingestel het en op die baba op ‘n straathoek agter die kragboks afgekom het.
Olivier het Dyonase se krete om hulp gehoor.
“Ek het dadelik ‘n handdoek gaan haal, die baba toegedraai en teen my vasgedruk om hom warm te maak. Intussen het daar twee polisiemanne van Hekpoort gestop en Netcare 911 ontbied,” het Olivier gesê.
Olivier noem dat Pieter van Zyl, ‘n paramedikus van Netcare, binne etlike minute daar was.
“Ek het by hom in die kar geklim en ons het na die privaat hospitaal gejaag. Ons het nie geweet hoe lank die baba in die sak gelê het nie, wanneer hy laas iets gedrink het of wanneer hy gebore is nie.”
Toe Olivier en Van Zyl by die hospitaal aankom is die baba dadelik ondersoek. Alles was gelukkig piekfyn met hom.
Die baba het 2,6kg geweeg en is daar en dan Phoenix genoem – wat simbolies van onsterflikheid is.
“Daar is geen, maar geen rede hoekom ‘n ma haar kind so op ‘n straathoek vir dood kan agterlaat nie. Ons ken miskien nie haar omstandighede nie, maar NIKS regverdig dit wat sy gedoen het nie.”
Sodra die baba sterk genoeg is sal hy na Leratong Hospitaal oorgeplaas word. Welsynsbeamptes of die polisie se Kinderbeskermingseenheid sal verdere stappe doen om baba Phoenix in pleegsorg of in ‘n tehuis te plaas.
