‘n Vrou van Zulujump in Kagiso is na bewering verlede Dinsdag 2 Desember deur drie mans van haar besittings beroof en verkrag.
Solomon Sibiya, ‘n polisiewoordvoerder van Kagiso Polisiestasie sê die vrou het om 8.30nm staatlangs gestap toe ‘n man, wat sy ken, haar genader het om vir haar iets in sy huis te wys.
Die man het glo daarna die veiligheidshek gesluit. Die twee ander verdagtes het toe ook reeds klaar in die huis gewag.
“Een van die verdagtes het toe kontant van haar geëis waarna hy haar na bewering aangerand het,” het Sibiya gesê.
“Die ander twee verdagtes het haar deursoek en haar geld van haar gevat voordat sy na ‘n slaapkamer gesleep is.”
Daar het die verdagtes haar glo verwurg en later beurte gemaak om haar te verkrag.”
Sibiya sê die vrou het later ‘n saak by die polisie oopgemaak wat tot die inhegtenisname van die betrokke verdagtes gelei het.
Die verdagtes sal binnekort in die Kagiso Landdroshof verskyn vir ‘n klagte teen gewone roof en verkragting.
