CrimeNewsUpdate

Diereliefhebber op wildsplaas vermoor

Sy wou glo die houtkissie met haar hond se as beskerm nadat rowers hulle by die Letamo Wildsplaas en -landgoed oorval het.

‘n Diereliefhebber en diereregteaktivis is voorverlede Donderdag deur huisrowers op die Letamo Wildsplaas en -landgoed in Kromdraai vermoor toe sy glo die houtkissie met die as van haar hond Malayka wou beskerm.

Jill Masterton, 62, en haar man Otto, 60, het omstreeks 9nm gaan kyk waarom die honde skielik begin blaf het.

“Dit is toe dat ons die mans in ons rigting sien hardloop het. Hulle het ons baie gou terug in die huis ingestoot en my met my gesig na onder op die vloer laat lê. Hulle het my hande en voete met elektriese drade vasgebind wat hulle in die huis gekry het,” het Otto gesê.

Hy het gesê hulle is toe van mekaar geskei.

“Hulle wou by my vrou weet waar die elektroniese ware is. Hulle het albei ons selfone gevat wat op die eetkamertafel gelê het voordat hulle met haar na die boonste verdieping is waar hulle die skootrekenaars ook geneem het.”

Masterton het gesê elke keer as hy wou opkyk om te sien wat die rowers doen het hulle hom in die gesig geklap.

“Hulle het iets, wat ek vermoed ‘n wapen was, teen my kop gedruk en wou weet of ons ‘n paniekknoppie in die huis het. Nadat ons vir hulle gesê het daar is nie een nie, het hulle meer ontspanne begin lyk en besef dat hulle volle toegang tot die huis het.”

Sowat 30 minute later het hulle begin vra waar die kluis is en toe hulle dit kry en sien dat daar nie geld in was nie het hulle geld begin eis.

“My beursie met sowat R600 was in die kar. Hulle het nie eens in die kaarte in die beursie belang gestel nie. Hulle het toe begin mal word en vir meer geld gevra omdat hulle gedink het daar moet nog geld iewers wees,” het Masterton gesê.

Hulle wou ook juwele hê, maar volgens Masterton is hulle nie materiële mense nie en het nie veel waardevolle besittings in die huis gehad nie. Sy vrou het ook nie juis juwele besit nie.

“Hulle is met haar weg en later het ek haar net gehoor skree: ‘Moenie daaraan raak nie!'”

Sowat 10 minute later is sy by die trappe afgetrek.

“Ek kon sien sy is erg beseer en in vreeslik baie pyn. Daar was ook baie bloed,” het Masterton hartseer vertel.

“Ons albei is saam vasgebind – sy het toe nog geleef.”

Nadat dit gelyk het of die rowers gevlug het, het dit Masterton sowat 30 minute geneem om los te kom en om hulp te roep.

Met sy terugkeer kon hy sien sy vrou se lewe hang aan ‘n draadjie. ‘n Paramedikus op die wildsplaas is ontbied om haar te probeer bybring totdat ‘n ambulans opgedaag het, maar sy het aan haar beserings gesterf en is dood verklaar.

Masterton het gesê sy vrou was ‘n lewenslustige mens wat ‘n passie vir die buitelewe en diere gehad het.

“Sy was lief vir die bos en was beslis nie ‘n stadsmeisie nie. Sy was gelukkig wanneer sy deur diere omring kon word.”

Hy het gesê sy sal ook nie wil hê dat mense oor haar afsterwe hartseer moet wees nie.

‘n Spesiale verassingsdiens om haar lewe te vier is reeds vir Jill gehou, het Masterton gesê.

Sy word ook oorleef deur haar twee seuns Kai, 36, en Tristan, 34.

‘n R20 000 beloning word aangebied vir enige inligting wat tot die suksesvolle inhegtenisname van die skuldiges sal lei.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button