CrimeLocal newsNews

Gesinshond erg vermink

'n Gesinshond is so erg vermink dat die eienaar wens sy het nooit na die lyk gaan kyk nie.

Die motief is steeds onbekend nadat ‘n gesinshond iewers tydens die nag van Ou- en Nuwejaarsdag erg vermink en vir die dood gelaat is.

Die trane het kort-kort van Elise Breedt se wange geloop toe sy vertel van die oomblik toe sy en haar seun terug is na die huis nadat hulle die Nuwejaar elders ingelui het.

“Ek wens ek het nooit gaan kyk nie; ek kan steeds nie glo daar is mense wat so iets fisies sou doen nie.”

Saskia, ‘n pit bullterrier wat sy as op-en-wakker beskryf het was hard met ‘n baksteen oor die kop geslaan, waarna die boosdoeners die hond se tande uitgepluk en ‘n paar keer met ‘n mes in haar sy gesteek het.

“Die tande het so gelê daar by die hek. Daar was ook bloedplasse op drie verskillende plekke soos sy (Saskia) gaan lê het om te vrek,” vertel ‘n emosionele Breedt.

“Ek moes haar eerder in die huis toegemaak het, maar mens dink nie dat mense só iets sal doen nie.”

Breedt het gesê wat haar die hartseerste maak is die feit dat Saskia reeds vandat sy ‘n kleinhondjie was deur soveel pyn en leiding gegaan het.

“Ek het haar van mense gered wat haar so verniel het. Sy was so maer dat ‘n mens selfs al die ribbebene kon sien,” vertel Breedt hartseer.

“Wanneer sy altyd kos by my gekry het was sy so nederig asof sy op haar unieke manier vir my bedank dat ek haar ‘n beter lewe kon bied,” vertel Breedt hartseer.

Sy het voorts gesê dat haar vierjarige kleinkind Kiarah Fritz, wat sowat drie jaar gelede plastiese chirurgie vir haar gesig ontvang het toe sy deur ‘n skaaphond in die gesig gebyt is, selfs nou begin uitvra oor waar Saskia is.

“Dit breek my om vir haar te moet lieg. ‘n Mens leer haar reeds van kleins af om altyd die waarheid te praat en dan kan ek dit self nie eers doen nie.”

Breedt het gesê sy hoop die persoon wat haar hond so seergemaak het, het ‘n klein dogtertjie.

“Ek wil hê elke keer as hy vir haar kyk moet hy weet daar is ‘n ander meisie wat vertroosting in my hond gevind het en nou oor haar uitvra. Ek glo God sal met jou afreken, want sy verdien dit nie!”

Op die vraag of sy enige vyande het, het Breedt geantwoord dat hulle nou eers ‘n jaar in Cairn Dhustraat woon en nog nooit enige iemand gepla nie.

Sy het bygevoeg dat ‘n saak nie by die polisie aanhangig gemaak is nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button