CrimeNews

Man se geliefde papegaai gebuit

'n Man is gebroke nadat rowers items met sentimentele waarde uit sy huis gesteel het.

‘n Inwoner se hart is in stukke nadat rowers sy geliefde Butch en sy maatjie gesteel het.

Manie Delport het op 9 Januarie omstreeks 4.30nm by sy huis in Krugerdorp-Noord aangekom toe hy besef dat hy ‘n slagoffer van ‘n inbraak was.

“Butch is ‘n donkergrys African Grey papegaai. Hy beteken vreeslik baie vir my siende dat ek hom al vir 13 jaar het en hom saam met my kinders grootgemaak het. Hy is soos ‘n kind vir my.”

Dit wil voorkom of die inbrekers spesifieke goedere geneem het soos ‘n duur televisiestel, Delport se geliefde African Grey en sy mak kanarie.

“My huis was so skoon soos ek hom gelos het en alles was steeds baie netjies. Niks is op die grond gegooi nie.”

Soos wat Delport versigtig sy huis binnegegaan het, het hy dadelik gesien dat Butch en sy hok weg was. Die rowers het selfs sy DVD-speler netjies uitgeprop en net so gelos.

In sy slaapkamer het Delport ontdek dat ‘n selfoon, ‘n horlosie, hangertjie en ‘n klein kluis met waardevolle dokumente in ook weg is.

Sy skootrekenaar is ook uitgeprop en gesteel, maar die laaikabel en muis was nog daar.

Die rowers was baie kieskeurig. Hulle het ‘n splinternuwe gholfstel gelos en eerder ‘n pienk vrouegholfstel en ‘n blou verfbalgeweer gevat.

“Hulle het my horlosie en ‘n hangertjie met ‘n dog tag aan uit my kas gevat. Enige mens kan sien die hangertjie het nie geldwaarde nie maar vir my het dit sentimentele waarde omdat my oorlede seun dit vir my laat maak het. Al die goed wat gesteel is, was na aan my hart.”

As iemand enige inligting het wat Delport kan help om sy geliefde African Grey en kanarie op te spoor skakel hom gerus by 072 065 0858.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button