CrimeLocal newsNews

[VIDEO + AUDIO]: ‘n Hoofstuk in blouligsaak afgesluit

Die hof het bevind dat die blouligmotorbestuurder nie enige berou toon nadat hy vir Mindalore-inwoner Thomas Ferreira van sy motorfiets afgestamp het nie.

Hy het uitdrukkingloos voor hom uitgestaar terwyl hy vanoggend 28 Januarie na sy vonnisoplegging in Kamer B van die Krugersdorp Landdroshof geluister het.

Joseph Semitjie, wat Mindalore-inwoner Thomas Ferreira vier jaar gelede met ‘n blouligmotor van sy motorfiets afgestamp het, is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis.

Landdros Abdul Khan het tydens die vonnisoplegging, wat deur Ferreira se gesin bygewoon is, gesê Semitjie kan na tien maande tronkstraf aansoek doen om korrektiewe toesig. Ferreira self was nie by die hof nie.

Gedurende die hofverrigtinge het Khan gesê alhoewel die Ferreira-gesin hom vergewe het, is hy nie oortuig dat Semitjie berou het oor die ongeluk nie.

Hy is reeds in 2013 op vier aanklagte skuldig bevind, waaronder roekelose en nalatige bestuur, en dat hy nie hulp aan die ongelukslagoffer verleen het nie.

Ferreira se suster Danielle, 19, was vandag vir die eerste keer in die hof omdat sy tevore skoolverpligtinge gehad het.

Sy het gesê van die hegte verhouding wat sy voorheen met haar broer gehad het, is daar feitlik niks meer oor nie.

“Ek kry die gevoel dat hy jaloers is op my en my lewe. Dit is verstaanbaar, want hier lei ek ‘n normale lewe, gaan saam met vriende uit en hy kan nie een daarvan doen nie.”

Khan het gesê die ongeluk het permanente breinskade veroorsaak wat Ferreira deurgaans buierig maak. Dit beteken dat hy nooit ‘n vaste werk of ‘n verhouding met iemand sal kan hê nie.

Na die vonnisoplegging het Ferreira se ouers Priscilla en Paul gesê hulle kan nie sê of hulle gelukkig is met die uitkoms nie, maar is bly dat dit ‘n hoofstuk in hulle lewe is wat afgesluit is.

“Ek is tevrede met die uitslag,” het Paul gesê.

Die blouligmotorbestuurder Joseph Semitjie tydens die hofverrigtinge.
Die blouligmotorbestuurder Joseph Semitjie tydens die hofverrigtinge.

Pretorianers Lou en Susan Larney, vriende van Thomas se ouers, het ook die verrigtinge bygewoon en gesê hulle het ondersteuning gebied omdat hulle self deur ‘n soortgelyke situasie is.

“Ons dogter Lindie het 15 jaar gelede ook breinskade opgedoen na ‘n ernstige motorongeluk.”

Die dokters het vir haar ouers gesê sy sal nooit selfstandig kan wees nie, maar vandag woon sy alleen en bestuur ook weer haar motor.

“Ons was hier om hulle te bemoedig,” het Lou gesê.

Verwante artikels:

• Ferreira sal lewenslank hulp nodig hê

• Thomas se ouers bly hoop

• Semitjie glo depressief na Ferreira-ongeluk

• Blue light court case: driver blames Ferreira

• Blouligsaak: Semitjie skuldig bevind

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button