Skoolkinders rook soos skoorstene
Skoolkinders stook die strate skaamteloos vol in Quelleriepark. News het woord gekry dat die hoofseun, die groep rokers gaan aanspreek het tydens die foto geneem is.
Die news het een middag by ‘n paar plaaslike hoërskole gaan inloer en was stomgeslaan om te sien dat talle leerlinge geen respek vir hulle skool het nie.
Hulle loop vanuit die skool se gronde in hul skoolklere en rook skaamteloos openlik.
Die news het selfs twee meisies oor die pad sien loop en rook wat met sigaret en al in hul ouers se karre geklim het.
Die skoolkinders staan in groepe voor die kafees naby die skole terwyl hulle lawaai en rook . Heel toevallig is daar ‘n rook-verbode bordjie by een van die winkels.
Daar is ook al opgemerk dat die kinders soggens voor skool in die strate staan en rook.
Die news het met die toonbankassistente in een van die winkels gesels wat bevestig het dat hulle slegs sigarette aan persone oor die ouderdom van 18 verkoop, en aandring op ID-bewyse.

Maar volgens sommige onderwysers en ouers koop die kinders wel sigarette by hierdie betrokke winkel. Die ouderdom van die leerlinge wat so skaamteloos staan en rook, word tussen 14 en 17 geskat.
Daar word beweer dat sommige onderwysers nie omgee dat die kinders rook nie en sal selfs saam met hulle ‘n dampie maak.
Die news het die een hoërskool wie se leerlinge die grootste oortreders is, gekontak vir kommentaar. Die hoof het die geleentheid gehad om te gesels oor die stuikelblokke wat hulle daagliks moet oorkom, maar die news wag nog vir sy terugvoering.
Volgens ‘n onderwyser wat met die news gesels het, geld ‘n strafpuntestelsel by die skool waarvolgens die leerlinge minuspunte ontvang vir oortredings.
Die news verstaan ook dat die skool dikwels die kinders toets vir dwelms maar handdoek ingooi wat die stryd teen die rokers betref.
Daar word vermoed dat die ouers die onderwysers aanvat wanneer hulle kinders detensie moet sit vir rook.
Aan die ander kant gehoorsaam een van Krugersdorp se gesogte hoërskole se leerlinge trots die skoolreëls aangesien hulle nie durf om met ‘n sigaret in die mond by die skool uit te stap nie. Die news het verskeie kere by hierdie spesifieke skool gaan loer of daar rokers is en is elke keer aangenaam verras om te sien dat hierdie leerlinge eers sal wag tot hulle by die huis is voor hulle ‘n sigaret aansteek.
Daar word nog gewag op formele terugvoering oor hoe dié skool hul rokers hanteer.
Die news sal graag by die lesers wil weet wat hulle dink van skoolkinders wat rook terwyl hulle in skooldrag is. Waar lê die verantwoordelikheid – by die ouers of by die skool?
Lug gerus jou mening onder aan die storie.
