Met ‘n groot liefde vir kos is dit glad nie vreemd dat Frik Vosloo (Devon Goosen) se gunsteling televisieprogram handel oor kos en resepte nie.
Tydens die gala-aand van Hoërskool Noordheuwel se groentjiekonsert is konsertgangers saam met hom na ‘n interessante dog vreemde wêreld meegevoer.

Een aand, terwyl Frik na sy gunsteling televisieprogram Nataniël se Tafel kyk en ‘n blikkie boontjies sit en eet hoor hy hoe sy naam geroep word.
Maar kan dit wees dat Nataniël self na hom roep en hom nooi om by die TV in te klim?
Hy word deur Nataniël self gekies om op ‘n opwindende avontuur te gaan waar hy belangrike resepte moet opspoor en terselfdertyd moet seker maak dit beland nie in die verkeerde hande van Die Regering nie.

Gedurende sy reis beweeg hy deur verskeie kanale en ontmoet hy ook die towenaar Henry Potgieter en Juliet, Romeo se beminde wat hom met sy taak help.
Tussendeur ontmoet hy ook ander bekendes soos Oprah Winfrey, Naas Botha, Liewe Heksie en karakters van bekende TV-programme soos Boer Soek ‘n Vrou, The Big Bang Theory en die aanbieder van die Nuus om Sewe.

Danksy al die hulp kry Frik dit reg om al die resepte veilig by Nataniël terug te kry, elk met sy eie boodskap.
Die resepte is vir ware liefde, hoe om jou vrese te oorwin, asook vir uithouvermoë en dissipline.
Aan die einde het Frik gesê: “Met resepte soos hierdie, gaan dít wat Nories kook, onvergeetlik wees!”

