VIDEO: Sterre verras fliekgangers
Hykie Berg en Nadia Beukes van die nuwe fliek Mooirivier het fliekgangers verras met 'n besoek.
‘n Aangename verrassing het vir fliekgangers by die Cine Prestige in Cradlestone Mall gewag.
Hykie Berg en Nadia Beukes, wat onderskeidelik die rolle van Marcelle Fourie en Stefan Malan in die romantiese Afrikaanse film Mooirivier vertolk, het daar opgedaag as deel van die landswye toer om die film te bemark.
Rene en Stefan Pretorius het as ‘n voorsmakie vir Valentynsdag op Woensdagaand 4 Februarie na Mooirivier gaan kyk.
“Ons het glad nie geweet Hykie en Nadia sou hier wees nie,” het Stefan gesê.
“Ons het ook nie hiervan geweet nie.” vertel Merinda en Cindy du Plessis.
Buiten dié verrassing, is die publiek in die Cine Prestige geselskamer met heerlike wit- en rooiwyn en smullekker kolwyntjies bederf. Woensdagaand wou Ster-Kinekor vir gewone fliekgangers ‘n gemaklike en aanloklike ervaring bied.
Lynne Wylie, die nasionale bemarkingsbestuurder van Ster-Kinekor sê daar wag nog baie soortgelyke verrassings op fliekgangers.
Toe Hykie en Nadia oor die Wes-Rand en Krugersdorp uitgevra is, het albei met groot glimlagte die vriendelikheid en mededeelsaamheid van Krugersdorpers geprys.
“Ek het vir ses jaar aan en af by die lieflike Venters, Dolla en Anton in Florida gebly ,” sê Hykie. Nadia vertel dat sy as Weltevredenpark-inwoner ook ‘n groot Afrikaanse aanhangerbasis aan die Wes-Rand ervaar.
“Asook die Oos-Rand,” meen Hykie.
Volgens hom is die inwoners van Krugersdorp en omstreke meer Afrikaans-patrioties en kyk graag meer na Afrikaanse produksies.
Mooirivier is die eerste Afrikaanse fliek van sy soort. Dit word vergelyk met Hollywood-treffers soos New Year’s Eve, Valentine’s Day en Love Actually. Mooirivier is ook ‘n ensemble waar meer as een paartjie of storielyn gevolg word deur die loop van die fliek. Die storie is verfilm in Potchefstroom waar daar talle geleenthede vir verskillende karakters raakgesien en gebruik is. Dit het beslis die teikenmark verbreed. Mamma, pappa, ousus, jongsus – asook ouma en oupa, sal hierdie fliek geniet.
Uiteindelik het ons die vraag gevra wat Mooirivier en elke mens vra: wat is liefde werklik?
“Die liefde is nie ‘n gevoel nie, maar ‘n keuse,” sê Hykie.
Nadia glo “liefde is ‘n plek waar jy kan veilig voel en net jouself wees.”
Dit was werklik ‘n aangename en intieme ondervinding met die sterre. Hykie het sommer drukkies uitgegee en Nadia pragtige glimlagte. Hulle het albei lekker met die publiek gesels en ‘n paar fliekgangers sommer 20 minute laat vir die 8nm vertoning laat kom. Niemand het gekla nie – natuurlik.
Mooirivier is vandag, 6 Februarie, landswyd vrygestel.
Gee die news jou mening oor dié nuwe fliek in die kommentaar-gedeelte onderaan. Ons hoor graag wat jy dink.
Vir nog foto’s van die geleentheid, kliek hier.
