‘n Bejaarde vrou het angsbevange uit haar erf gehardloop op soek na hulp nadat sy in haar huis in Mindalore aangeval en beroof is.
Die Erasmus-paartjie het op 2 Februarie van die dokter se spreekkamer in Witpoortjie af gery, toe hulle in Exchangeweg op die bejaarde vrou afgekom het.
Sy het skoenloos in die pad gestaan, met ‘n verwarde uitdrukking op haar gesig en geroep, “Help, help!” onthou Hester Erasmus.
Die paartjie het aan die news verduidelik dat hulle haar byna met die gestremde vrou in die area verwar het en amper verbygery het.
“Maar toe kyk ek in my truspieëltjie,” het Tony Erasmus gesê.
Hy sien toe die bejaarde vrou, wat desperaat om hulp vra by motoriste wat verby ry. Hy het toe dadelik ‘n U-draai gemaak.
“Ek is aangeval,” is die eerste ding wat sy vir hulle gesê het.
Die bejaarde vrou in haar huis aangerand en toe beroof. Volgens die vrou was die vermeende aanvallers steeds in haar huis.
Erasmus het met ‘n sambok in die hand deur die huis gaan loop op soek na die verdagtes wat vermoedelik te voet spoorloos verdwyn het.
Die bejaarde het later aan die paartjie verduidelik wat gebeur het.
Sy los gewoonlik die kleinhekkie toe, en nie gesluit nie, sodat die munisipaliteit die waterlesings kan neem.
Toe drie mans haar hekklokkie aanhoudend lui, het sy het hulle geïgnoreer.
Die volgende oomblik het sy iets hoor breek en binne ‘n oogwink was hulle by haar.
Sy vertel hoe die drie mans haar juwele van haar arms afgeruk het, en haar met ‘n kombers oor die kop onder ‘n tafel ingedruk het.
“Bly stil, ons gaan jou doodmaak,” het hulle vir die bejaarde geskree terwyl hulle haar huis ogekeer het op soek na waardevolle items en geld. Die Erasmusse het die Gemeenskapspolisiëringsforum van Sektor 9 geskakel en hulle was binne twee minute op die toneel. Die verdagtes het vermoedelik in die bos agter die Mindalore-tennisbane verdwyn.
Die GPF Sektor 9-patrolleerders meen dat die bos ‘n groot rol in die misdaad in die area speel.
