Spoke? Wat jy waar kry?
Kraak! Die deure slaan oop en weer toe, maar Krugersdorp-inwoner André Stander, fasiliteitbestuurder by die Roodepoort Forensiese Patologiese Afdeling het self nog nooit met 'n spook by sy kantoor kennis gemaak nie. Miskien is hierdie Vrydag, die 13de anders?
• Wat doen jy graag Vrydagaande en oor die naweek?
Ek ontspan graag saam met familie by die huis of kuier met vriende.
• As jy nie ‘n forensiese patoloog was nie, wat sou jou beroepskeuse gewees het?
‘n Tuisbly-pa.
• Hoe lank is jy nou al ‘n forensiese patoloog en sal jy jou werk vir iets anders verruil as jy die kans kry?
Ek is reeds vir die afgelope 26 jaar in hierdie beroep. Of ek dit vir iets anders sou verruil is ‘n moeilike vraag – as ek die kans kry, sal ek sekerlik iets anders wou doen.
• Is jou werk regtig so interessant soos wat die televisie dit uitbeeld, of is dit bietjie meer ernstig?
Dit is wel baie interessant, maar definitief nie soos wat ons dit op TV sien nie. Dit is baie meer ernstig – “blood and guts” soos die Engelsman sou sê. Op die Wes-Rand alleen kanteer ons meer as 1 600 gevalle ‘n jaar.
• Wat presies behels jou werk?
Ons werk met enige onnatuurlike sterftes soos moord, selfmoord, enige tipe ongelukke, asook waar mediese nalatigheid by hospitale vermoed word. Die polisie versoek ons om na ‘n toneel uit te gaan waar die liggaam verwyder word en in samewerking met die patoloog word ‘n lykskouing gedoen om die oorsaak van die dood te bepaal wat dan as bewys in die hof voorgelê kan word.
• Wat sou jy sê is die belangrikste deel van jou werk?
Om toesig te hou en om die verskillende fasiliteite te bestuur.
• Jy werk op ‘n gereelde basis met die dood. Maak dit jou ooit depressief voel teenoor jou werk?
Al werk ek met die dood, is daar net eenvoudig nie tyd om depressief te voel nie – ‘n mens onderdruk dit maar op ‘n manier. Wat my wel depressief maak, is om daagliks te aanskou wat in ons land gebeur.
• Hoe hanteer jy jou werkstres?
Stres was nog altyd deel van ons werk – jy moet net eenvoudig ‘n manier vind om dit te verwerk. Jou denkwyse, familie en vriende maak dit baie maklik om werkstres hok te slaan.
• Wat geniet jy die meeste van jou werk?
Dit is glad nie ‘n maklike of aangename beroep nie, en ook nie vir enige persoon bestem nie. Dit is wel verblydend om te weet dat dit wat ons doen, positiewe resultate oplewer. Sonder ‘n oorsaak van dood sal geen skuldig- of onskuldigbevinding in ‘n hof moontlik gewees het nie. Geen lewenspolis waarvoor geëis word, sal uitbetaal nie, en die belangrikste – dit gee die geliefdes en familie van die oorledene afsluiting oor hoe en aan wat die persoon oorlede is.
• Is daar enige spookstories wat die rondte doen by die Forensiese Patologiese Afdeling in Roodepoort?
Spoke? Nee, nog nooit gesien nie. Daar is wel praatjies onder die personeel dat hulle deure hoor oop en toe gaan, asook stemme hoor praat, maar ek het dit self nog nooit ondervind nie.
• Is jy bygelowig, met ander woorde, bang om onderdeur ‘n leer te loop of dink slegte geluk is vir jou beskore wanneer ‘n swart kat met jou paaie kruis?
Nee, ons los dit maar vir die oumense of voorouers, aangesien ek nie meer as ‘n jong persoon kwalifiseer nie.
• Het jy enige stokperdjies?
Ja, beslis. My buurman, Dolf Schneider (mal soos ‘n haas) het so ‘n paar jaar gelede voorgestel dat ons ‘n skubaduikkursus moet deurloop en dit is toe dat die gogga my byt en sedertdien kon ek nie uit die water bly nie.
• In watter koffiewinkel of restaurant kuier jy graag?
Daar is geen spesifieke plek nie. As ons as familie uitgaan, gaan ons meestal na Spur of Ocean Basket by Key West.
• Het jy troeteldiere?
Twee honde, Lilly en Bushy asook ‘n kat, Soko wat die kinders en vrou daar aangebring het, maar ek is ook baie lief vir hulle.
• Het jy ‘n spesifieke plek waar jy daarvan hou om stil te raak?
In die bos, langs ‘n vuurtjie met ‘n brandewyntjie.
• As jy nie by die huis of by die werk is nie, waar sal ‘n mens jou kry?
Ek is maar ‘n mense-mens, ek kuier gewoonlik by vriende of ons kuier saam op ‘n plaas in Groot Marico, Nylstroom of Vergeleë.
• Waarheen sal jy nog wil reis en het jy enige gunsteling vakansiebestemming?
Ek sal graag dele van Afrika wil sien. Ons het so ‘n mooi kontinent. As familie besoek ons gereeld die Kruger Nasionale Park en Sodwana om te duik.
• Wat is jou gunsteling:
Fliek: The Lion King
Musiek: Enigiets van die 80-erjare
Kos: ‘n Lekker bord gekookte kos
Drankies: Brandewyn met baie ys (nie skoon nie, hoor)
Winkel: Outdoor Warehouse of Sportsmans Warehouse
