Die aanval op ‘n bejaarde vrou was die laaste strooi vir die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van Sektor 9.
Op 2 Februarie het die vrou angsbevange uit haar erf gehardloop op soek na hulp nadat sy in haar huis in Mindalore aangeval en beroof is.
Lede van Sektor 9 het toe besluit genoeg is genoeg en het op Saterdag, 7 Februarie, dou voor dag by mekaar gekom in Exchangeweg en Rubenstraat waar hulle ‘n skoonmaak initiatief afgeskop het. Hierdie initiatief is van stapel gestuur omdat die GPF net mooi keelvol vir die misdaad in die area is.Hulle het sowat 7vm begin en die beboste gebied tot op die grond toe af gesny.
Lede van die gemeenskap het deur die dag die by die lede van die GPF aangesluit en met byle, kettingsae en handsae die area help ontbos.
Daar was selfs gif op die onkruid gespuit om die hergroei van die beboste gebied te probeer verhoed.
“Die bos was nie net ‘n oogseer vir die area nie maar ook ‘n gevaar vir die gemeenskap,” meen Leon van Ehrke, voorsitter van GPF Sektor 9.
Die opruimingsoggend, volg nadat die Sektor 9 lede al sowat vyf verdagtes in die laaste maand in die bebosde deel vasgetrap het. Terwyl die manne hard aan die werk was om die bos op te ruim, het die vrouens hulle bystand met heerlike boereworsrolletjies en lekkerney aangebied.
“Hierdie is net een van nog vele pogings wat die GPF aanneem en toepas om die gebied veilig te maak vir die gemeenskap.”
