Rugby in sy bloed
Juan-Pierre Volschenk draf dalk vir die Stryders op die kassie uit, maar in werklike lewe speel hy vir die Harlequins Wes-Rand eerstespan.
Met sy spoed en spierkrag speel Juan-Pierre Volschenk die rugbyveld op die kassie aan die brand.
Maar dié akteur wat in die televisiereeks en die rolprentweergawe van Getroud met Rugby verskyn het, is in der waarheid ook ‘n regte rugbyspeler en ‘n kaptein wat onlangs as die Speler van die Jaar by sy rugbyklub aangewys is.
Juan-Pierre, wat vir die Harlequins Wes-Rand se tweederugbyspan uitdraf, het gesê hy geniet nog altyd rugby, maar die rubysaadjie is geplant toe hy rugby by Laerskool Protearif begin speel het.
“Ek is in ‘n rugbyfamilie gebore; my ooms en nefies het almal dié sport gespeel en dit was seker van my verwag om ook daardie paadjie te stap.”
Alhoewel hy nog altyd vir ‘n loopbaan in rugby gehoop het, het daardie drome vinnig uitgesterf en het hy sy lot aanvaar dat hy nie eendag die groen en goud oor sy skouers gaan trek nie.
“Ek het al verskeie operasies vir rugbybeserings ondergaan en het selfs ‘n tydperk my rugbytokse opgehang totdat ‘n vriend my gesmeek het om dit weer aan te trek.”
So het Juan-Pierre weer in 2013 die adrenalien beleef van op die veld wees en sweet oor sy voorkop voel aftap terwyl hy met die rugbybal na die doellyn mik.
“Ek wil ‘n voorbeeld vir die gemeenskap se kinders wees. Die seuns kan eerder saam met ons op die veld speel as om in die straat te wees – hier by die Harlequins is daar reeds soveel suksesverhale van spelers wat hul lewens deur rugby verander het.”
Oor die toekenning het hy beskeie gesê dis nie werklik vir hom ‘n baie groot eer nie.
“Dit is eintlik meer van ‘n troosprys vir al die insette, deursettingsvermoë en jare se harde werk op die veld.”
Hy het gesê die jeug moet nooit ophou droom nie.
“Al werk jou planne nie uit soos jy dit wou hê nie, moenie jou daardeur laat onderkry nie; daar is dalk ‘n beter pad wat vir jou wag.”
Juan-Pierre het gesê hy is self deur baie hartseer en teleurstelling as dit by rugby kom.
“As dit jou passie is, moet jy eenvoudig net deurdruk!”
