CrimeNews

Vrou slaan inbreker met knopkierie

'n Bejaarde egpaar is in die vroeë oggendure deur drie inbrekers verras.

Hy het die koeël wat sy vrou getref het by sy gesig voel verbygaan toe drie gewapende inbrekers hulle vanoggend 18 Februarie langs die bed kom verras het.

Witpoortjie-inwoners Johan en Rosa van der Walt, albei pensioenarisse, het vanoggend net na 2vm wakker geword toe hulle sien die kamer se deur is oop nadat die alarm se liggie aangegaan het.

Die egpaar se seun Hannes het aan die News gesê sy pa is kort daarna deur een van die rowers aangeval, wat hom met sy hande probeer verwurg het.

“Dit is toe dat my ma hom begin skop en met haar knopkierie slaan, só dat hy op die grond neerval,” verduidelik Hannes.

“Sy het toe geskree: ‘sit die alarm aan!’, waarna een van die rowers sy geweer op haar rig en haar onder die regterarm skiet.”

Die koeëlmerk waar dit die muur getref het nadat dit haar deurboor het, is nog in die egpaar se slaapkamer sigbaar.

“Hulle het toe uit die kamer gevlug, maar hulle was beslis nie haastig nie. My pa het sy handwapen uit die kluis gaan haal en hulle nog by die hek sien staan en gesels voordat hulle oor die muur geklim het.”

Die West Suburbs Roodepoort Neighbourhood Watch (WSRNW) buurtwag is ontbied en sover as wat vasgestel kon word lyk dit nie of die inbrekers enigiets gesteel het nie.

Rosa is tans in die Leratong Hospitaal waar sy, onder meer, vir x-strale moet gaan om die omvang van die skade te kan probeer bepaal.

Frik van Zyl, woordvoerder vir die WSRNW, het gesê huisinbrake in die Witpoortjie-area is aan die toeneem en omdat Witpoortjie aan Mindalore in Krugersdorp grens is dit moontlik dat hierdie misdade hierheen kan oorspoel.

Leon Ehrke, voorsitter vir Sektor 9 Gemeenskapspolisiëringsforum het gesê hulle sal hierdie kwessie met hulle lede opbring sodat inwoners vooraf oor die misdaad rondom Mindalore ingelig kan word.

Hy het voorts gesê dat inwoners ten alle tye waaksaam moet wees en klein misdaadvoorkomings jakkalsies reeds van vroeg af in die kiem moet smoor.

“Inwoners moet asseblief seker maak dat hulle vensters en deure toe is wanneer hulle snags gaan slaap. Gordyne moet ook toegetrek word, want snags is jou huis ‘n advertensie vir inbrekers wat kan sien wat binne jou huis is.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button