
Ten spyte daarvan dat ‘n inwoner van Noordheuwel reeds duisende rande spandeer het om sekuriteit in sy erf op te skerp, is hy steeds besteel – van sy wasgoed.
Dié inwoner, wat anoniem wil bly uit vrees dat die rower hom dalk sal herken, het aan die News gesê sy vrou het die oggend van die diefstal opgemerk dat die wasgoed wat sy die vorige dag op wasgoedhangers opgehang het, van die wasgoedlyn verdwyn het.
Sy het eers gedink dat hy dit van die lyn afgehaal het, maar toe sy die wasgoedhangers op die grond sien lê het sy geweet dat iets nie reg is nie.
Die egpaar het toe saam na geslote televisie beeldmateriaal gekyk waar hulle gesien het dat ‘n man na 2vm oor die muur geklim het. Hy was vir sowat 15 minute in die erf voordat hy met sy buit gevlug het.
“Ek dink hy wou eintlik by die stoorkamer inkom, maar toe hy onsuksesvol was daar het hy die tweede beste opsie gekies, en dit was om die wasgoed van die lyn te steel.
“Toe ek daarna kyk het ek eintlik van skok gebewe.”
Hy het gesê dit kos hom om nou nog ‘n verdere R12 200 om palisade-heinings op die deel van die muur waar die rower ingekom het, te installeer.
“Ek weet nie meer wat om te doen om die kriminele uit my erf te hou nie.”
‘n Saak is by die Krugersdorp Polisie Stasie aanhangig gemaak.
