‘n Oomblik in ‘n skets vasgevang
West Villige se kunstenaar teken skoolhoof se portret as 'n spesiale verjaarsdaggeskenk.
‘n Plaaslike kunstenaar het Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs besoek en ‘n oomblik met ‘n pragtige skets op sy esel en doek vasgevang.
Dawie van Deventer het ‘n skets gemaak van die skoolhoof, GL Bühner wat op Valentynsdag 14 Februarie verjaar.
Dawie skets al van 1979 af en het kuns by Tukkies gestudeer.
Sy gunsteling medium is eenvoudige houtskool, maar hy geniet dit veral om ‘n willow-houtskool te gebruik aangesien dit sagter skets.
Die West Village-kunstenaar het die verjaardagskets gedoen om nie net sy talente aan die gemeenskap te wys nie maar ook om ‘n projek waaraan hy werk te loods.
Hy beoog om ‘n persentasie van die opbrengs van elke skets wat hy by die skole in die area doen, aan ‘n liefdadigheidsorganisasie te skenk.
“Ek glo ‘n portret is baie belangrik, dit vang ‘n identiteit met ‘n sekere waarde vas wat die kameralens eenvoudig nie kan vang nie,” meen die kunstenaar.
Die News het langs Dawie gesit terwyl hy die skoolhoof geskets het.
Hy begin deur die buitelyne van die hoof se gesig vinnig op die skilderdoek neer te lê. Dan werk hy aan die meer ingewikkelde details wat die lyne in ‘n gesig vorm.
“Die kuns van skets is om die karakter op die oomblik op die doek vas te vang, wat dan as ‘n illustrasie van die siel sal dien.”
Vir meer inligting oor Dawie en sy kunswerke, skakel hom gerus by 079 503 6476 or stuur ‘n epos na dawidvandeventer@gmail.com.
