Balgooiers kyk in vuurwapen vas
Met geklemde hande het een van die slagoffers verduidelik hoe hy en sy vriend moes vlug uit vrees.
Twee Graad 9-leerlinge van die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs vrees vir hulle lewe nadat ‘n Nigeriese man na skool glo in Naudéstraat in Burgershoop ‘n vuurwapen op hulle gerig het.
Met geklemde hande het een van die leerlinge, op voorwaarde van anonimiteit, aan die news vertel wat gebeur het toe hy en een van sy vriende huis toe gestap het.
Soos kinders van hulle ouderdom maar doen het hulle hulself besig gehou.
“Ons het ‘n rugbybal vir mekaar gegooi toe een van ons die bal misgevang het. Die bal het toe in die pad voor ‘n kar beland,” het die seun gesê.
“Dit is toe dat die man ons roep en skielik op ons begin vloek. Al wat ons op daardie oomblik kon doen was om jammer te sê.”
Volgens die seun was dit steeds nie goed genoeg nie.
“Hy het daarna sy handrem opgetrek, uitgeklim en ‘n vuurwapen op ons gerig. Dit is tóé dat ons besluit het om so vinnig as wat ons kon, te vlug.”
Sy pa, wat ook anoniem wou bly om sy kind te beskerm, het gesê dit het hom nou meer as R70 000 gekos om ‘n ekstra voertuig aan te koop sodat sy vrou hul kinders eerder by die skool kan gaan haal.
“Waarheen gaan ons land? Ons kinders is nie eers meer veilig om in die strate te stap nie. Ek wil net hê ander ouers in die omgewing moet weet wat besig is om te gebeur en dat hulle en hul kinders waaksaam moet wees.”
