Beurtkrag byt aan sakeonderneming se sak
'n Wassery in Krugersdorp moet behoorlik spook om sy kliënte gelukkig te hou wanneer beurtkrag toegepas word.
Dit verg soveel meer tyd en inspanning om ‘n sakeonderneming suksesvol te bedryf wanneer die belangrikste hulpbron ontbreek.
Willis du Plessis, eienaar van die wassery Washpro het gesê die beurtkrag wat Eskom toepas is vir hom baie meer as net problematies; dit vat ook ‘n hap uit sy onderneming se winste. Drie van sy ondernemings is in Krugersdorp gebaseer.
Nie net moet hy alles in die stryd werp om sy kliënte hier en by sy ander takke in Gauteng gelukkig te hou nie, maar sy werknemers moet na ure spook om die werk betyds klaar te kry.
Dit beteken dat hy hulle ingevolge arbeidswette oortyd moet betaal.
“Indien ons ‘n akkurate beurtkragskedule kan kry sou dit reeds baie gehelp het, want dan kon ek my werknemers vir daardie tydperk huis toe gestuur het,” verduidelik hy.
“Maar omdat ons in die duister is en nooit weet nie, word hulle betaal om by die winkel te sit omdat hulle nie kan werk nie.”
Du Plessis het voorts gesê ten spyte daarvan dat hy reeds besparingsmaatreëls ingestel het, soos om die gewone gloeilampe met energiebesparende gloeilampe te vervang – kostes wat hy eers oor sowat ‘n jaar sal verhaal – is hy steeds die lydende party.
“Ek probeer regtig alles in my vermoë om my onderneming meer energievriendelik te maak. Selfs die tuimeldroërs het ek gestel om langer warm te bly.”
Omdat sy sakeonderneming groot masjinerie gebruik en dus baie krag trek, kan hy nie ‘n kragopwekker installeer nie.
“Dit sal my sowat R600 000 kos, omdat dit nie net ‘n gewone kragopwekker kan wees nie. Voorts sal dit my maklik drie keer meer uit die sak jaag om die kragopwekker aan die gang te hou as wat die elektrisiteit my tans sou kos om dieselfde werk te verrig.”
In noodgevalle, veral waar kliënte hulle items binne 24 uur wil terughê, gaan Du Plessis se drywers die items by sy ander sakeondernemings haal. Sy kliëntebasis bestaan grootliks uit gastehuise.
“Wanneer daar byvoorbeeld beurtkrag in Krugersdorp is, dan neem ons hierdie items na ons takke in Roodepoort. Dit kos my wel baie aan petrol om my drywers heen en weer te stuur, maar in die proses hou ek my kliënte gelukkig.”
