CrimeLocal newsNews

Derde hond al vergiftig

Na die soveelste geval van hondevergiftiging in die Krugersdorp-Wes area verwag die gemeenskap die ergste.

Na gerugte dat inbrekers eers jou honde vergif en kort daarna by jou kom inbreek, bevestig drie sulke onlangse gevalle dat daar wel so ‘n neiging in Krugersdorp is.

Anton du Plessis en sy verloofde Christiaan Heyns het Vrydagoggend 20 Februarie hul geliefde hond, Bella in haar hok sien lê – vergif.

‘n Saak is by die polisie geopen en daar is ‘n lykskouing op Bella gedoen. Volgens Du Plessis het ‘n veearts bevestig dat Two Step die oorsaak van Bella se dood was. Dr Dirk Gouws van die Monument Dierekliniek bevestig dat Aldicarb, die handelsnaam van die produk wat as Two Step bekend staan, die senustelsel affekteer en spiere ooraktief maak.

“Die hartspiere trek uiteindelik ook saam en lei tot ‘n tipe hartaanval of respiratoriese versaking,” vertel Gouws.

Aldicard is ook vir mense gevaarlik. Indien slegs ‘n teelepel vol ingeneem word, kan dit swakheid, versteurde visie, hoofpyn, naarheid en selfs bewerigheid veroorsaak.

Die gif, nadat dit uit die sakkie gehaal is.
Die gif, nadat dit uit die sakkie gehaal is.

Volgend Du Plessis het die ondersoekende veearts gesê daar was die vorige maand drie gevalle van vergiftiging in Krugersdorp-Wes, met dieselfde storie in Krugersdorp-Noord .

“Wessies lok baie jong mense as gevolg van die bekostigbare huise en die (voorheen) lae misdaadsyfer,” vertel Du Plessis, effens bekommerd.

“Ons het dit glad nie verwag nie.”

Gouws sê daar is wel iets wat ons diereliefhebbers kan doen.

“Geaktiveerde koolstof bind die gif en gee jou dalk ‘n bietjie tyd om by die veearts uit te kom,” sê hy.

“Dit het baie na papawersaad of geswete hamburger geruik,” vertel Du Plessis.

Bella was doof en volgens Du Plessis het hul bure nie eens geweet hulle het ‘n hond nie omdat sy nooit geblaf het nie.

“Die polisie het verduidelik dat die inbrekers dalk wou ‘skoonmaak’ voor ‘n ander inbraak,” vertel Du Plessis.

Die polisie meen as jou bure dalk groot, lawaaiende honde het, breek hulle by jou in en raak van jou hond ontslae om ‘n ontsnaproete te beplan.

Du Plessis steun die polisie se bewering verder deur te vertel dat sy opwaskamer nie gesluit was nie en dat daar gasbottels in die erf staan, maar niks is gesteel nie.

Die News moedig die inwoners van Krugersdorp en veral Krugersdorp-Wes aan om stappe te doen om hul honde te beskerm.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button