‘Sê hoe jy voel’ is vanjaar die niewinsgewende organisasie Matla A Bana – Tswana vir ‘krag van die kinders’ – se hooftema.
By twee Krugersdorpse laerskole naamlik Kenmare en Krugersdorp-Noord is leerlinge ingelig dat hulle ook regte het en dat hulle nie geheime moet hou nie, maar eerder moet praat wanneer iets hulle pla of ongemaklik laat voel.
Om hierdie boodskap oor te dra het Llandi Beeslaar in ‘n klein toneelstuk van so 20 minute lank as Elsie Geselsie opgetree en verduidelik dat kinders wat nie praat nie, die ergste seer het.
Sy het veral gefokus op gevalle waar kinders deur volwassenes gemolesteer word en dan deur die volwasse persoon aangeraai word om niks daaroor te sê nie omdat dit hulle geheim is.
“Dit is wanneer kinders dan vreemd begin optree. Hulle raak kwaad en aggressief omdat hulle gefrustreerd is oor die situasie omdat hulle voel hulle mag nie daaroor praat nie,” het Lizel van Eeden, projekbestuurder van Matla A Bana gesê.
“Baie keer word die kinders ook deur die persoon geïntimideer om nie iets te sê nie.”
‘n Ander doel van die besoek was bewusmaking rondom ‘n fietstoer van die Wes-Rand tot in Kaapstad waaraan nege fietsryers gaan deelneem.
Hierdie fietstoer gaan gebruik word om borge te kry sodat die organisasie kan voortgaan om sy dienste te voorsien.
Die organisasie, wat in 2001 deur Monique en Callie Strydom gestig is na die vreesaanjaende verkragting van twee babas, gebruik die geld om, onder andere, mediese dokters, speurders en beraders op te lei sodat hulle namens die kinders in die howe kan getuig.
Lizel het gesê soveel sake wat met kinders te doen het word daagliks van die hof se rol geskrap omdat lewensbelangrike getuienisse wat deur hierdie persone verskaf kan word, nie beskikbaar is nie.
“Ons wil hierdeur die gesprek aan die gang kry om kinders in te lig dat hulle altyd moet praat. Dit moet vir hulle cool wees om met hulle maatjies te praat wanneer iets hulle pla of iemand hulle seermaak,” het Lizel gesê.
Kinders wat met iemand wil praat kan altyd die polisienoodlyn by 10111 of die kinderlyn by 0800 055 555 kontak.
Vir meer inligting oor die organisasie of om betrokke te raak kontak Lizel by 073 171 1031.
