“Arri, Arri, Arri!”
Só het dit oor Laerskool Krugersdorp-Noord se rugbyvelde weergalm toe talle kinders met gekleurde verjaardaghoedjies, waarvan sommige deur die kinders self gemaak is, die naam van die skool se motiveerder geroep het.
Dit was 25 Februarie sy tweede verjaarsdag en om dit te vier is daar selfs vir hom ‘n helderkleurige koek in die vorm van ‘n vis – sy gunsteling maaltyd – gebak en deur die Graad 7-leerlingraad aan hom oorhandig nadat hy in ‘n bloedrooi monstervragmotor opgedaag het.

En net om seker te maak dat niemand sy koek by hom afvat nie, het twee groenkleurige lyfwagte hom vergesel.
Daar is vir hom gesing voordat leerlinge die kans gekry het om ook vir hom dankie te sê dat hy hulle deur die jaar gemotiveerd hou.
Skoolhoof Charles Müller is eintlik die slimkop agter die idee van Arri.

“Arri is daar om ‘n boodskap aan die leerlinge oor te dra en hulle tydens verskeie skoolgeleenthede soos sportbyeenkomste, kaskardae en oor die eksamentydperk gemotiveerd te hou.”
Hy het gesê die belangrikste boodskap wat Arri uitdra is die Bybelteks in Jesaja 40:31 wat op sy bors aangebring is: “Maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”
