Bronwyn is nie ‘n poppie nie
Hierdie skoonheid werk om haar gemeenskap te verbeter.
Bronwyn Sandenbergh, Mej Mogale City Wes-Rand Junior, is ‘n meisie op ‘n liefdadigheidsmissie.
Sedert die dag verlede jaar toe sy as Mej Mogale City Wes-Rand Junior gekroon is, het sy besluit sy gaan die dorp ‘n beter plek te maak – een liefdadigheidsprojek op ‘n slag.
Die 16-jarige Hoërskool Noordheuwel-leerling werk tans aan ‘n Paaseierprojek vir The Bethany House Trust waaruit hul onderskeie takke gaan voordeel trek.
“Die insameling dien as ‘n bederf vir die minderbevoorregte kinders,” sê Bronwyn.
Sy is ook betrokke by The Cradle of Hope tehuis vir vroue en kinders en het verlede Desember kersgeskenke ingesamel wat by die Leratong-, Dr Yusuf Dadoo- en Netcare Krugersdorp-hospitaal uitgedeel is.
“Ons het so baie ingesamel dat daar geskenkies oorgebly het wat ons toe aan Pick n Pay Cradlestone se Kersboomprojek geskenk het.”
Nadat die beeldskone meisie jaar na jaar sonder sukses vir verskeie skoleskoonheidskompetisies ingeskryf het, het sy verlede jaar met die Mej Mogale City Wes-Rand Junior-kroon weggestap.
“Die titel is fantasties omdat dit my ‘n hupstoot gee om my gemeenskap te dien.”
Sy meen ook dat mens nie ‘n titel of ‘n modelvoorkoms nodig het om na die gemeenskap uit te reik nie.
Haar 11-jaar ondervinding in modelwerk het haar gehelp om die titel los te slaan. Sy het nie net modelwerk gedoen nie maar ook toneelspel en het selfs ‘n afrigtingkurses bygewoon.
Maar moet nie dat hierdie mooi meisie jou flous nie, want sy geniet dit om in haar vrye tyd kwadfiets te ry en te lees.
Sy geniet dit ook om fiks te bly en oefen sowat drie maal ‘n week.
Dit is maklik om te sien waar haar hart lê toe met lof van haar vier honde, twee katte en ‘n uitheemse macaw-papegaai vertel.
“Ek is maar eenmaal ‘n dieremens.”
Nou ja, met ‘n liefde vir diere en die gemeenskap wil dit voorkom of daar geen keer aan hierdie barmhartige skoonheid is nie.
